Gevaarlike honde wat sonder leibande in die straat rondloop, het onder die loep gekom nadat ’n pitboel-kruising ’n kat verlede week wreed verskeur het.
Volgens Belinda Theart is sy steeds gebroke nadat haar 15 jaar oue lieflingkat Mia verlede Maandag 16 Mei by hul huis in die stil Acacialaan in Proteaville in Durbanville verskeur is.
Jong mans, vermoedelik van Morning–star of omgewing, het op dié dag wat vullisverwydering in die straat gedoen word, in die straat met ’n winkeltrollie verbygestap met hul loslopende hond terwyl hulle in dromme gekrap het.
Volgens Theart was sy in haar huis se voorportaal besig toe hulle verby haar huis gestap het.
“Ek het my nie daaraan gesteur nie. Maar wat ek nie gesien het nie was hul groot wit-en-swart pitboel, wat in daardie stadium seker toe al in my werf ingekom het.
“My honde het vreeslik tekere gegaan in die agterplaas en ek het maar aangeneem hulle blaf vir die dromkrappers.
“Ná ’n tydjie het die geblaf al meer histeries geraak en ek weet toe iets groots is fout.
“Ek het voordeur toe gehardloop en die vreemde hond in my tuin langs die huis tekere sien gaan. My hart het gaan staan want ek het geweet my geliefde kat Mia was buite op die stoep of in die oprit besig om in die son te bak, soos sy elke dag doen.
Op videomateriaal kan gesien word hoe die hond Mia herhaaldelik heen-en-weer in sy bek rondgeruk totdat sy heeltemal slap was.
“Ek is dadelik by die voordeur uit en toe die hond sy kop van die grond af lig, het ek my kat in sy bek gesien.
“Sy het nie ’n kans gestaan nie. Hardloop vir haar lewe sou sy nooit kon doen op haar ouderdom nie. Ek het haar naam uitgeroep in ’n hartverskeurende gil en op daardie oomblik geweet sy is nie meer met ons nie.
“Die hond het begin pad vat met haar in sy bek, maar haar toe laat val. Toe sy die grond tref, sien ek haar mondjie oopgaan en die glaserige ogies. Nooit ooit wil ek weer deur so iets gaan nie.
“Om aan haar pap lyfie te vat, wat nie meer een heel been in het nie, was die ergste.
“Ek kan nie ophou huil nie. My hart is stukkend. Al troos wat ek het, is om te glo dat dit vinnig verby was en dat sy geen seer of pyn gevoel het nie,” sê sy.
Volgens Theart het sy ’n klag aanhangig gemaak by die Stad Kaapstad se wetstoepassers en net ’n verwysingsnommer ontvang … niks verder nie.
Die Dierebeskermingvereniging (DBV) het haar net weer na die wetstoepassingsdepartement verwys.
“Hierdie hond en sy ongevoelige base moet van die strate af gehaal word. Hoeveel onskuldige katte moet nog dood? Hoeveel mense moet nog maande lank soek na hul katte wat lankal deur die hond doodgebyt is?
“Moet daar eers ’n klein kind doodgebyt word voor iemand iets gaan doen?” vra sy.
Wayne Dyason, woordvoerder vir Stad Kaapstad se wetstoepassingsdepartement, sê honde moet te alle tye op ’n leiband wees in openbare plekke. Oortredings is strafbaar met ’n R500-boete.
In Mei is 84 mense in die Stad se noordelike stadsgebiede (Area Noord) beboet, in April 31 en in Maart 89.
Dyason sê dis belangrik dat die publiek oortreders rapporteer. Inligting soos die registrasienommer van ’n voertuig of adres van die oortreder moet aan die wetstoepassingsdepartment verskaf word. Die klaer moet ook bereid wees om ’n verklaring af te lê en in die hof te getuig, sê hy.
In gevalle waar diere deur loslopende honde aangeval word, moet inwoners ’n klag by die polisie aanhangig maak, asook dit aan die Stad rapporteer, wat dan sal optree in terme van die munisipale ordonnansie vir die aanhou van diere.
“Hondeienaars is verantwoordelik om hul honde in openbare plekke te beheer en aan wetgewing te voldoen,” sê hy.
- Oortreders kan aangemeld word by 021 480 7700 vanaf ’n selfoon of 107 vanaf ’n landlyn.


