’n Skynbare salarisdispuut het vandag (Maandag 28 November) daartoe gelei dat ’n kar in Bellville aan die brand gesteek is.
Volgens ’n ooggetuie het private sekerheidswagte van vroeg vanoggend al die Rhobot-supermark omsingel op soek na antwoorde oor hul salaris. Dié persoon vertel aan TygerBurger daar is bespiegel dat die wagte twee maande laas betaal is.
Intussen het die eienaar van die winkel homself uit die situasie verwyder en is die winkel gesluit. Die ooggetuie sê die kar se vensters is uitgeslaan, daar is op die dak gespring en toe is die Mercedes-Benz, wat blykbaar aan die winkeleienaar behoort, aan die brand gesteek.
“Die petroltenk het eers ontplof en toe die battery. Dis was een harde slag en toe was daar net swart rook.”
TygerBurger hoor ook die polisie is ontbied deur plaaslike wetstoepassingsbeamptes van die VRCID-stadsverbeteringsdistrik, wat daar naby werk.
Die ooggetuie sê die polisie het ook daar aangekom en probeer om die situasie te ontlont, maar dit het egter “verder handuit geruk”. Volgens die ooggetuie is skokgranate toe rondom 15:00 gebruik om die betogers uitmekaar te kry.
Volgens dié persoon is daar blykbaar ook van die betogers in hegtenis geneem, maar niemand is beseer nie.
Ao. Henriëtta van Niekerk, Bellville-polisiewoordvoerder, het bevestig dat daar ’n motor uitgebrand is, en dat twee mense in hegtenis geneem is.
“Mense het rof begin raak en die polisie se openbare-orde-eenheid, Pops, het skokgranate gebruik om die situasie te ontlont.”
Van Niekerk bevestig die situasie is teen 15:30 onder beheer gebring