KYK: Kar gesteel, geen polisieondersoek gelas

“Dit het alles binne minute gebeur,” vertel George de Lange van Oakdale, Bellville, oor hoe vinnig sy dogter se motor gister (Sondag) buite sy huis gesteel is. Om sout in die wond te vryf, het die polisie tot nou toe nog nie eens die toneel besoek nie, sê hy.


“Dit het alles binne minute gebeur,” vertel George de Lange van Oakdale, Bellville, oor hoe vinnig sy dogter se motor gister (Sondag) buite sy huis gesteel is. Om sout in die wond te vryf, het die polisie tot nou toe nog nie eens die toneel besoek nie, sê hy.

De Lange vertel sy dogter, Debbie van den Berg, het Sondagmiddag omstreeks 14:30 daar aangekom vir ’n kuier.

Omdat sy en hul skoonseun op ’n plaas buite Fisantekraal woon, kom haal hulle altyd water by die ouerpaar.

Volgens De Lange moes dit seker gebeur het in die uur ná hulle daar aangekom.

Sy dogter wou die waterkanne in die kar gaan haal, maar toe hulle buite kom was die kar weg.

“My kind is ontroosbaar,” sê Bettie de Lange. Sy vertel die motor is hoe haar dogter haar brood en botter verdien.

As die polisie onmiddellik gereageer het, kon ons dalk die motor teruggekry het
George de Lange

Op die De Langes se sekerheidsvideo kan dit duidelik gesien word hoe ’n bakkie verbyry en weer terugkom met drie insittendes.

Hy vertel een man het uitgeklim, om die kar gestap, die agterste passasiersdeur oopgemaak, en só toegang verkry.

Die video wys hoe die man die voorste deur oopmaak, inklim, die kar aan die ry kry, en wegry.

Die De Langes het onmiddellik die polisie gebel, wat nog steeds nie opgedaag het nie.

Ná vier ure se gewag het die groep toe besluit om self na die Bellville-polisiekantoor te gaan.

Hier is aan hulle gesê dat die wettige eienaar van die motor – Van den Berg se skoonsuster in Krugersdorp – eers toestemming moet gee voordat so ’n voorval aangemeld kon word.

De Lange sê daar moet ’n ander manier wees om motordiefstalle dadelik te kan aanmeld en uitsaai.

“As die polisie onmiddellik gereageer het, kon ons dalk die motor teruggekry het,” meen hy.

Brig. André van Dyk, stasiebevelvoerder van die Bellville-polisie, sê hy is jammer om van die voorval te verneem.

“Die klaer is baie welkom om ’n formele klagte te lê vir ’n dissiplinêre ondersoek om moontlike wangedrag van lede te ondersoek.”

Van Dyk sê wanneer ’n klaer ’n voertuig as gesteel aanmeld, moet die klaer ’n bewys kan lewer van eienaarskap van die voertuig.

“In hierdie geval was die voertuig nog nie op die nuwe eienaar (Van den Berg) se naam geregistreer nie, dus sal ’n bewys – soos ’n koopkontrak of ander dergelike bewyse voorgelê moet word”.

Van Dyk sê die maatreël is ingestel om te voorkom dat die verkeerde voertuigbesonderhede gesirkuleer word in so ’n geval.

Hy sê indien dit nié só gedoen word nie, kan dit lei tot onregmatige arrestasies en siviele eise teen die polisie.

You need to be Logged In to leave a comment.