’n Nagmerrie eie aan ’n misdaadriller op die silwerdoek, is
hoe Gerald le Roux* sy kapingsdrama beskryf.
Hy is vir vier lang ure vasgemaak en opgesluit in sy motor
se kattebak terwyl hy vir sy lewe gevrees het.
Le Roux is in die vroeë oggendure vrygelaat, maar sy trauma sou
veel langer voortduur. Ná twee weke het hy besef daar is min hoop dat die
polisie sy aanvallers gaan vastrek, selfs nadat hy hulle ’n dag ná die voorval
voorsien het van vuurwarm leidrade.
“Dit voel asof ek nie net ’n slagoffer van misdaad is nie,
maar ook ’n slagoffer van swak polisiewerk. Ek voel kwesbaar en sonder hoop,”
het hy laas week tydens ’n onderhoud aan TygerBurger gesê.
Le Roux van Goodwood is op 16 Julie om 02:00 in Kleinzee,
St. Michaels in Brackenfell ontvoer.
As taxibestuurder by Taxify, soortgelyk aan Uber, het hy ’n
bespreking gekry om twee mans vroeër die oggend in Voortrekkerweg op te tel en
kwansuis by Buh-Rein-landgoed in Kraaifontein af te laai.
“Een man het voor langs my kom sit en een agter my. Ons het
al die pad soontoe lekker gesels en ek het nie onraad vermoed nie. Hulle het my
egter gevra om eers in Brackenfell te stop en toe ek in Kleinzeestraat afdraai,
het hulle my gevra om enige plek in die straat stil te hou. Ek het hulle nog
vriendelik gegroet en ’n goeie dag toegewens toe ek onverwags die loop van ’n
vuurwapen in my nek voel,” vertel Le Roux. Sy suster, Elna Roberts*, was ook
teenwoordig tydens die onderhoud om haar erg getraumatiseerde broer te
onderskraag.
“Toe ek omkyk, sien ek die man langs my pluk ook ’n vuurwapen
uit en druk dit toe in my maag. Hulle het my agter in die motor geboender, ’n
paar keer geklap en my hande met ’n skoenveter vasgemaak. Ek het gesmeek dat
hulle alles kan vat, maar my net asseblief moet laat gaan. ‘You are going
nowhere’, het hulle gesê en my in die kattebak van my motor toegesluit. ‘If you
make a noise we will kill you’, het hulle herhaaldelik gesê. Ek kon nie glo wat
aan die gebeur was nie. Dit was onwerklik en het soos ’n fliek afgespeel.
Vreeslike gedagtes het deur my kop gemaal.”
Die twee mans het verder gery, maar ná ongeveer drie minute
weer stilgehou.
“Uit die gleufie waar die kattebak nie heeltemal toe was
nie, kon ek ’n bruin siersteengebou sien. ’n Derde man het by hulle aangesluit
en hulle het meestal in Xhosa en Engels met mekaar gepraat. Al wat ek kon
uitmaak, is iets soos ‘Stellenbosch … and then you kill him …’”
“Die vrees het my oorweldig en ek was vas oortuig dis my
einde. Hulle het weer gery, wat vir Le Roux soos ’n ewigheid gevoel het. Dit
het gevoel of ons op ’n snelweg is en het toe afgedraai op wat soos ’n grondpad
gevoel het. Deur die gleufie kon ek baie bome sien en daar het honde geblaf.
Dit het soos ’n plaas gelyk. Ek het gedink my einde gaan nou aanbreek.”
Die mans het egter weer gery, terug op die grondpad, toe
weer ’n geteerde pad gevat, waar Le Roux ’n stasiegebou gesien het.
“Toe ons weer stop, het hulle my uitgehaal en gevra vir al
my bankkaarte en pinnommers. Hulle het deurentyd gesê hulle maak my dood as ek
lieg. Hulle het ook die wagwoord van my Taxify-toep gevra. Ek is terug in die
kattebak gebondel en hulle het weer gery. Hulle het daarna twee keer gestop,
vermoedelik by kitsbanke om my geld te trek, waarna hulle by ’n plek gestop het
wat lyk soos ’n sakepark. Hier het hulle my goue ring van my vinger afgehaal en
gevra of daar enige ander geld of waardevolle items buiten my tablet in die kar
was.
“Hulle het aanhou vra vir meer geld, en gedreig anders skiet
hulle my. Uiteindelik het hulle my ophou dreig en is ons weer weg op ’n
snelweg.”
Skuins voor 06:00 het die mans die motor net duskant
Kruispad in Proteahoogte gestop, waar hulle Le Roux se hande losgesny het.
“Die een man het ’n mes uitgehaal waarmee hy die veters
losgesny het. ‘We are going to let you go now, you are very lucky you are still
alive. We could have done worse things to you’, is al wat hy gesê het”.
Hulle het Le Roux beveel om nog tien minute in die kar te
bly voor hy uitklim en het nie die kar, ’n Hyundai Accent, geneem nie.
“Ek het gehoor hoe hulle in ’n ander motor wegry en ’n
rukkie later het ek uitgeklim. Ek het eers rondgeval en amper ineengestort voor
ek besef het waar ek was.
“My suster bly daar naby en ek het dadelik na haar toe
gery.”
Daar aangekom het hy baie naar geword en siek gevoel en was
eers in staat om teen 08:00 die saak by die Brackenfell-polisiekantoor te gaan
aanmeld.
“Gerald het met sy motor gery en ek en my man het agterna
gery. Ons wou nie vingerafdrukke in sy motor los nie,” sê Elna.
By die Brackenfell-polisiekantoor is daar egter vir hulle
gesê dat dit nie nodig is om vingerafdrukke te neem nie, omdat die motor glo
reeds “gekontamineer” was.
“Ek het egter daarop aangedring en die beampte het gesê ons
moet huis toe gaan, hy sal kyk of hy iets kon reël.”
Die polisie het Le Roux eers om 20:00 geskakel om sy motor
terug te bring vir vingerafdrukke wat later by die eenheid in Stikland geneem
is.
“Ons het later uitgevind dat daar net aan die buitekant van
die kar vir vingerafdrukke gesoek is en dat een vingerafdruk wel gevind is.” Sy
sê dat hulle ook nie vir vingerafdrukke op sy bankkaarte en beursie gesoek het
nie.
“Dit was baie vreemd. Ons het gesien hoeveel vars
vingerafdrukke daar in die motor was, en waar die kattebak oop en toe gemaak
is.
“Maar nog vreemder was toe ons die motor weer wou gaan haal
het. Ons het uitgevind dat die polisie die motor as gesteel aangemeld het
terwyl dit by die vingerafdrukeenheid gestaan het. Ons het selfs ’n oproep
gekry om te sê ons voertuig is gevind. Gelukkig het iemand die flater later
reggestel,” sê Robberts.
“Ons het die volgende dag 17 Julie dadelik die
selfoonmaatskappy besoek om uit te vind of daar enige oproepe van Gerald se
selfoon gemaak is. Daar was, en die selfoonmaatskappy het ons voorsien van ’n
nommer, naam en selfs ’n adres van die persoon wat tydens die nag geskakel is.
“Ons kon egter nie die speurder wat die saak sou ondersoek,
in die hande kry nie en niemand anders by die polisiekantoor wou die inligting
ontvang nie.
Le Roux en Robberts het ook intussen die twee banke besoek
waar daar met sy kaarte geld getrek is, en versoek dat enige beeldmateriaal van
die nag se gebeure aan die polisie gestuur moet word. Dié versoek is
toegestaan.
“Ons het die speurder deurentyd gebel, maar hy was óf nie
daar nie óf nie beskikbaar nie. Hy het ons vir die eerste keer op 24 Julie
gekontak nadat ons die speurhoof die vorige dag geskakel het,” sê Robberts.
“Ons het egter die oproep gemis, maar dadelik teruggebel en
’n dringende boodskap gelos. Die speurder het ons egter eers weer op 27 Julie
teruggeskakel en ’n afspraak gemaak vir Saterdagoggend 28 Julie, maar nie
opgedaag het nie,” sê Elna.
“Teen die Maandag het ons weer geskakel en in aanraking
gekom met die speurhoof, saam met wie ons later ontmoet het. Ons het ook
vasgestel dat my broer se Taxify-toep nog aktief was en ons het die polisie
hiervan verwittig. Ons het ook met behulp van Gerald se Google-rekening
vasgestel waar presies die motor op oral op die pad gestop het en het die
liggings aan die polisie verskaf. Die polisie het gemeld dat hulle die
inligting sou opvolg, maar tot vandag (2 Augustus) het ons nog geen
terugvoering gekry,” sê sy.
Robberts sê sy het alle vertroue verloor in die polisie se
vermoë om kriminele sake te ondersoek.
“Die enigste ‘terugvoer’ wat hulle ons kon gee, was dat die
banke beeldmateriaal voorsien het – ’n versoek wat ons self gereël het!
“Ons het eintlik self al die speurwerk gedoen en warm
leidrade voorsien, wat nie eers opgevolg is nie. As die polisie dadelik reageer
het, kon hulle die mans vasgetrek het en verhoed het dat hulle dieselde aan
ander mense doen. Hoekom moet ons as landsburgers soveel druk op die polisie
plaas net om hul werk te doen?” vra Robberts.
Kol. Willie Joseph, stasiebevelvoerder van die
Brackenfell-polisie, het bevestig dat die klaer met die speurhoof, lt.kol.
Bosman, ontmoet het, wat die ondersoekprosedure verduidelik het en waarmee die
klaer tevrede was.
Volgens Bosman is die ondersoek tans in ’n gevorderde
stadium en dat hulle prioriteit daaraan gee.
“Die klaer was verwittig daarvan dat hy die speurhoof ten
alle tye kon skakel as hy ontevrede was met die ondersoek, maar hy het geen
verdere klagtes gehad nie. Sou die klaer nog nie tevrede wees met die ondersoek
nie, kan hy sy klagte in skrif aan my rig sodat dit sorgvuldig ondersoek kan
word,” sê kol. Joseph.
*Skuilname is gebruik om die slagoffer en sy suster se
identiteite te beskerm.
Vertel TygerBurger wat jy van hierdie berig dink by
briewe@tygerburger.co.za.