Sowat 44 000 inwoners van Kaapstad het tot dusver amptelik beswaar aangeteken teen die sogenaamde droogteheffing wat die Stad Kaapstad op belastingbetalers wil afdwing, en het nog tot Vrydag 12 Januarie om hul stemme te laat hoor voordat die openbare deelnameproses sluit.
Danksy die kragtige Stop COCT- (City of Cape Town)/Dear Cape Tow-veldtog, wat op 3 Desember verlede jaar deur Sandra Dickson van Brackenfell van stapel gestuur is.
In minder as ’n maand het die veldtog se Facebook-groep reeds 6000 lede gewerf.
“Lede van die publiek kon dan met behulp van ’n digitale portaal op ons Dear Cape Town-webwerf hul amptelike beswaar teen die heffing direk aan die Stad stuur,” sê Dickson.
Sy glo dat dit juis dié platform was wat verantwoordelik was vir die ongekende getal besware wat aangeteken is.
Die meeste besware wat nóg aangeteken was teen ’n Stadsbeleid, heffing of begrotingskwessie in die afgelope paar jaar was skaars meer as 1000, reken Dickson.
“Dít [hierdie getal] was verlede jaar toe die Stad die elektrisiteitstariewe verander het. Die verandering het daartoe gelei dat sowat 100 000 inwoners se kragtariewe met tot 75% gestyg het,” sê sy.
Volgens haar het die Stad daardie verandering deurgevoer sonder om gehoor te gee aan die sowat 1000 besware wat toe gemaak is.
“Die Stad stoomrol alles deur, maar ek wil graag sien hoe hulle meer as 43 000 besware gaan ignoreer,” sê sy.
Die droogteheffing wat in Desember 2017 voorgestel is, bepaal dat huiseienaars ’n addisionele maandelikse belasting moet betaal gebaseer op die waarde van hul eiendom.
Private eiendomme van R400 000 en meer sal belas word met ’n maandelikse heffing wat bereken word tusssen 10% en 11% van die betrokke eiendomsbelasting.
’n Woning met die waarde van R1 miljoen sal dus R60 per maand ekstra betaal.
Inwoners het nog tot Vrydag 12 Januarie om amptelik beswaar aan te teken teen dié heffing.
“Dis baie maklik. Besoek net ons webwerf by www.dearcapetown.co.za om jou kommentaar in te dien,” sê Dickson.
Dickson sê dit is absurd vir die Stad om inwoners wat reeds sedert 2016 water bespaar, nou te straf met addisionele belasting.
“Op eie onkoste doen ons as inwoners reeds genoeg om water te bespaar met gryswaterstelsels, boorgate en watertenks. Nou moet ons nóg meer betaal vir nóg minder. Wat doen die Stad? Hoekom word al die verantwoordelikheid op ons skouers geplaas? Waar is die R3 miljard wat oor was op die 2016-begroting?” vra sy.
“Dit gaan oor die beginsel van die saak. Al die heffings hoop op en die middelklas kan nie meer byhou nie. Sommige inwoners wat reeds deurgeloop het met verlede jaar se elektrisiteitstariewe sal teen dié jaar alreeds sowat R300 meer betaal vir eiendomsbelasting. Waar gaan dit alles eindig?
“Die Stad moet vorendag kom met langtermyn strategieë en oplossings. Om die kostes rentevry van belastingbetalers te verhaal, is nié die oplossing nie.”