Die een oomblik het hy nog reggemaak vir sy November-eksamen en die volgende oomblik het hy gehoor hy het kanker.
Ruben van Rooyen (16), wat in Kenridge bly, het letterlik een Sondag vir sy ma gesê hy voel iets vreemds aan sy lyf en twee weke en ’n operasie later gehoor hy het kanker.
“Dit was ’n helse skok,” erken hy.
Ruben, ’n leerder aan die Hoërskool D.F. Malan, het onlangs sy 27ste en laaste chemoterapie klaargemaak. Dié syfer is een van klomp wat die afgelope jaar sy lewe oorgeneem het nadat hy byna ’n jaar se skool gemis het: Altesaam 23 sessies bestraling; twee operasies; talle aande in die hospitaal.
Een ding kon wel nie gemeet word nie. Trane.
“’n Mens huil baie as jy kanker het,” erken hy.
Ruben se Everest het begin toe hy Oktober by die skool in die saal gaan sit en iets vreemds in sy boud gevoel het. “Dit was nie pyn nie; dit was nie ’n brandgevoel nie. Dit het gevoel asof daar ’n klip in my gatsak was en ek’t daarop gaan sit.”
Hy het vir twee weke daaroor stilgebly. “Soos ’n tipiese tiener, toe dink ek nie dadelik ‘oe, dis kanker’ nie. Ek’t net gedink, okei, kom ons los dit en beweeg aan’.”
Hy het toe sy ma, Mari, van die “knoppie” vertel. Toe sy kyk, toe sê sy “Ruben, hierdie is nie ’n knoppie nie, hierdie is ’n gholfbal.”
Hulle is die volgende dag na die huisarts toe. En so het die eerste domino geval in ’n baie lang proses. Die chirurg het nie gewag nie en dadelik die knop uitgesny. ’n Paar dae later het die nuus gekom – hy het kanker.
Die waarheid het eintlik eers werklik later ingeskop, sê hy. “Ek was baie naïef.”
Sy ma, Mari, sy pa Ryno en sy suster Amelia was platgeslaan.
Maar hy onthou duidelik hoe hulle uitgestap het en hoe hulle die glasdeur toegemaak het. “En ek sak so in my ma se arms. En ons almal huil.”
Hy het enkele dae later sy onkoloog, dr. Johann Riedemann, ontmoet. Nog toetse is gedoen en hy is met alveolêre rhabdomyosarkoma gediagnoseer – ’n baie skaars en ’n aggressiewe kanker wat toe in stadium drie was.
Dis die tweede keer dat Ruben ’n skaarse siekte kry. Hy ly ook aan ruminasiesindroom, wat al voorheen veroorsaak het dat hy ’n jaar se skool mis.
“Dit het my baie erg gebreek om te dink “dang, ek moet weer van vooraf begin.”
Hy het juis net tevore begin “normaal” voel. Net voor die diagnose het hy vir sy ma gesê hy voel uiteindelik nie meer soos die siek kind nie. Hy doen weer goed op skool, kan weer akademies uitblink en aan sport deelneem.
“Daai het my hart gebreek. Dit was soos: ek het nou net my voete gevind. Dit was maar ’n groot upset.”
Die behandeling was uitmergelend. Hy het een “groot chemo” van ses ure lank gehad, waarna hy so verswak het dat hy eers in die hospitaal moes oorbly.
Daarna moes hy vir ’n week rus, waarna twee weke se “klein chemo” (van een uur lank) gevolg het. Die proses het daarna net van vooraf begin.
Dit was baie moeilik om weg te wees van skool en vriende. “My grootste uitdaging is maar die uitmis van my lewe.”
Hy was weens die behandeling baie moeg. As hy een dag by die skool inloer, sou hy vir drie dae moes afvat. “Dit het veroorsaak dat ek nie my ou self kon wees nie.”
Hy’t gevoel sy hele lewe, hy self, word weggevat.
“Jy pas aan en leer om te cope, maar my lewe het verander na ek wat in my bed lê.”
Daar was groot emosionele uitdagings. “Ek kan sien hoe my vriende aanbeweeg. En hoe hulle, nie vergeet van my nie, maar hulle moet ook hul lewens hê. Ek het maar baie gehuil in die aande. Dit is ’n idee van wat jy als verloor.”
Baie het hom egter deur hierdie tyd gedra. Die mediese personeel en Rudemann het hom op sy slegste gesien, en het als bietjie meer draaglik gemaak.
“Daai aan-cheer, dit gee jou hoop.”
Verder het sy vriende en veral sy ouers hom gedra. “Die mense om my gee my hoop.” Sy vriend en buurman, Marlo Harmse, het gereeld ingeloer en hom ondersteun.
Ruben hoop nou om vir ander te leer om nie bang te wees vir kanker nie. Mense kan meer leer en nie weghardloop daarvoor nie.
“As mense verstaan en minder bang is vir die woord, sal jy jou geliefdes en familie beter kan hanteer.”
Hy verduidelik nog dikwels vir ander: “Dit is nie aansteeklik nie,” sê hy. “Kanker – jy kry dit. Dit kan orals in jou liggaam ontstaan en dis jou eie selle wat verkeerd gegaan het. En nou moet jy iets doen: chemo of bestraling of ’n operasie. Miskien is jy lucky; jy kry ’n goeie prognose. Ek was lucky om ’n goeie prognose te kry.”
Lees ook op bl. 21 meer oor Crayon, ’n spesialis- onkologie-eenheid vir kinders en tieners wat by die Cape Gate onkologie-eenheid deur Icon Oncology en Cancercare op die been gebring is