Letitia Niemand, Carol Barkhuizen en Alta van Zyl doen die gelukstrekkings vir die pienk troos-kombersies wat gewen kon word. FOTO: Desiree Rorke


Daar was nie ’n droë oog in die vertrek nie toe kankeroorlewendes en dié wat met kanker saamleef of geliefdes aan die siekte afgestaan het Saterdagoggend hul lief en leed in deernis met mekaar gedeel het.

Die geleentheid, ’n keurige oggendtee met die tema “Geloof, hoop en liefde” is deur die nie-regeringsorganisasie Brackenfell Forum in die Rusoord-saal aangebied ter bewusmaking van borskanker, asook ander kankers by vroue.

Die forum is daarop toegespits om burgerlike kohesie in Brackenfell te bevorder.

Alta van Zyl, voorsitter van die forum, het in haar toespraak gesê dat daar met die inisiatief ’n boodskap van hoop gebring word, dat kanker nie ’n doodsvonnis is nie.

Sangeres se reis

Die bekende plaaslike sangeres, Vilene Kannemeyer, het haar drie jaar lange stryd met kanker gedeel tydens haar optrede by die geleentheid. Die gevreesde siekte het haar lewe handomkeer verander.

“Ek het op ’n dag net skielik begin siek voel. Met die staat se gesondheidsdepartement soos dit is, het dit my twee jaar geneem om ’n korrekte diagnose te kry en twee weke later moes ek ’n volle histerektomie ondergaan waarin my baarmoeder en eierstokke verwyder is,” vertel sy.

Ná haar operasie het die kanker egter na haar blaas, pankreas, milt en limfkliere versprei.

“’n Gedeelte van my blaas is weggesny en 16 limfkliere is verwyder.

“Ek het 82 bestralingsbehandelings ondergaan, het al my hare verloor, maar hier staan ek nog.

“My hare het teruggegroei en tydens my behandelings het ek voortgegaan met musiekoptredes.

“Ons het almal dinge waaraan ons vashou, en vir my was my musiek my medisyne. Ek het deur 11 maande se kankerbehandeling nie nodig gehad om een optrede te kanselleer nie.”

Met haar optredes in dié tyd kon sy R239 000 bymekaar maak om hospitaalrekeninge te betaal.

“Ek het baie kere opgestaan en gedink waar gaan die geld vandaan kom vir die volgende behandeling. Wat gaan ek doen? Maar nes jy dink jy kan nie meer nie … dan doen jy dit.”

Kombersies

Pienk trooskombersies – pienk vir Borskankermaand in Oktober – is in gelukstrekkings weggegee.

Die kombersies is deur Carol Barkhuizen gemaak met die materiaal wat in Oktober 2023 om bome vasgemaak was om bewusmaking vir kanker te kweek. Elke besoeker het ook ’n pienk rooskwarts-klippie ontvang.

Volgens navorsers by die Universiteit Stellenbosch kom borskanker al hoe meer in die land voor, wat dit een van die mees algemene kankers onder Suid-Afrikaanse vroue maak.

Om hierdie groeiende probleem aan te pak, word Oktober landwyd as Borskankermaand aangewys.

Navorsers sê vroeë opsporing deur gereelde selfondersoek van die borste, kliniese ondersoeke en mammogramme kan die oorlewingskoers beduidend verbeter.

Hoewel enigeen deur borskanker geraak kan word, kan sekere risikofaktore soos genetika, familiegeskiedenis en lewenstylkeuses die waarskynlikheid daarvan verhoog.

Maar danksy die vooruitgang in mediese navorsing en behandelings- opsies geniet baie borskankerpasiënte nou beter uitkomste.

In haar afsluiting het Van Zyl verwys na dr. Martin van der Merwe wat in sy boek Goddelike openbarings deur drome en visioene, die volgende oor die kleur pienk geskryf het.

“Dis ’n herinnering dat Jesus jou eerste liefde is. As Hy jou eerste liefde bly, sal niks ooit ’n las vir jou wees nie. Dit wys dat jy groter fisiese of geestelike seëning ontvang; dit wys dat jy liefdevol is.

“Voorts dra die pienk rooskwarts ook volgens wetenskaplike navorsing die molekulêre energie-vibrasiefrekwensie van 350hz. Wanneer jy aan hierdie frekwensie blootgestel word, kan jy die frekwensie van hartenergie verhoog en koördineer. Die energievibrasie daarvan kan emosionele wonde genees en ’n stil ruimte skep vir innerlike vrede en selfherstel,” sê Van Zyl.

“Stap vandag hier uit, met die Rots (Jesus) in die hand, tesame met die boodskap van liefde, fisiese en geestelike seëninge en weet jy is nooit alleen nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.