’n Laerskoolseun het dadelik oor die muur gespring toe hy sien sy bejaarde buurvrou (83) is besig om te verdrink.

Boonop het sy kennis van noodhulp heel moontlik haar lewe gered.

Ruaan van Rhyn (12) van Stellenberg in Bellville was Saterdagmiddag tuis saam met sy ma, Annel, toe hy ’n geluid hoor.

Annel het niks gehoor nie en die twee bly toe stil om beter te kan hoor. “Toe hoor ek ’n tannie skreeu,” sê Ruaan.

Hy het nie twee keer gedink nie en is na die aangrensende muur waar hy oorgekyk en gesien het hoe die vrou in die water lê.

“Sy het met haar maag op die water gelê,” sê Ruaan.

“Dit was amper of sy met haar laaste krag probeer om op te kyk.”

Ruaan is dadelik oor die muur en in die water, waar hy die vrou toe probeer uittrek het. Hy kon haar halfpad uit die water trek, met haar bolyf wat buite die water is. Hy het na Annel geroep.

“Toe doen ek so ‘n lifeguard-ding wat my broer my geleer het, en toe sit ek haar op haar sy.”

Ruaan se ouer broer, Anro (17), was voorheen by ’n kursus wat deur die Nasionale See-en-Sand-instituut aangebied is en het voorheen vir Ruaan oor ’n paar van hul lesse touwys gemaak.

Die vrou het toe water begin opgooi. Intussen het Annel bygekom (“hy kon natuurlik maklik(er) oor die muur kom”). 

Die vrou het baie koud gekry en die twee is haar huis in om komberse te kry om haar warm te maak. Die vrou bly alleen, maar verhuur ’n deel van haar huis. Die huurder was egter nie tuis nie.

Ruaan se pa, Hardu, en Anro, het ook teen daardie tyd by die huis gekom en die ambulans ontbied.

Die vrou is na die hospitaal gehaas, waar sy na verwagting later dié week ontslaan sal word.

Toe sy oor die voorval gebel is, was sy onbewus van wat plaasgevind het.

“Al wat ek kan onthou, is dat ek buite die water was. Ek kan eintlik nie veel van die insident onthou nie.”

Die vrou, wat nie genoem wil word nie, sê is baie dankbaar vir Ruaan se hulp en gaan sodra sy ontslaan is persoonlik by hom ’n draai maak.

Intussen het Ruaan se ouers en die plaaslike buurtwag almal hul lof teenoor hom uitgespreek. 

“Dit was baie stresvol,” erken Ruaan. Hierdie insident het hom egter nog nie heeltemal inspireer om dit as ’n beroep te oorweeg nie. “Ek sal natuurlik altyd mense wil red, maar ek sal dit dalk nie as ’n werk wil doen nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.