‘n Groot aantal ouers in Kaapstad ongeag die gebied waarin hulle woon, is bekommmerd oor hul kinders se veiligheid op pad skool toe, is in `n nuwe studie bevind.
Die studie deur navorsers van die departemente siviele ingenieurswese en ekonomie by die Universiteit Stellenbosch dui aan dat faktore soos roekelose bestuur, swaar verkeer, misdaad, en `n behoefte aan veilige sypaadjies en voetoorgange rolspelende faktore is.
Die navorsers het met ouers van kinders in 19 skole in laer- en hoërinkomstegebiede reg oor Kaapstad gepraat. In die noordelike voorstede van Kaapstad het ouers uit onder meer Durbanville, Bellville, Kuilsrivier, Delft, Elsiesrivier en Dunoon aan die navorsing deelgeneem.
Sowat 44% van ouers in die steekproef het gemeld dat hulle “baie bekommerd” is en 42% was ‘n “bietjie bekommerd”. `n Klein groepie van 13% was “glad nie bekommerd nie”.
“Ouers in gebiede met baie ongelukke was aansienlik meer bekommerd as dié in gebiede met minder ongelukke,” het die navorsers gesê.
Padveiligheid
Hulle het bevind dat ouers van kinders wat skool toe stap die hoogste vlak van kommer beleef.
Diegene wie se kinders openbare vervoer gebruik, is ook meer bekommerd as ouers van kinders wat van private vervoer gebruik maak.
Daar is bevind dat verkeerstoestande ‘n groot bekommernis vir ouers in laer- en hoër-inkomste- groepe is.
“Motoriste wat jaag, roekelose bestuur, swak infrastruktuur en swaar verkeer is die grootste bronne van kommer. Kommer oor veiligheid kom ook in albei groepe voor, insluitend misdaad, bende-aktiwiteite, onvoldoende polisiëring en `n gebrek aan kindertoesig.”

“Ouers van kinders wat skool toe stap, veral dié in laer sosiaal-ekonomiese gemeenskappe, se grootste bekommernis is die gebrek aan sypaadjies en beligting, asook oor voetoorgange wat swak geplaas is.
“Daarteenoor was ouers van kinders in hoërinkomstegroepe minder krities oor die fisiese omgewing en het meer gefokus op algemene padveiligheidsrisiko’s wat ander bestuurders inhou.”
Die navorsers sê ofskoon ouers bekommerd is oor die manier waarop hul kinders skool toe reis, is daar nie veel wat hulle op hul eie kan doen om die situasie te verbeter nie en hulle het doelgerigte ingryping nodig.
“Ouers het `n beroep gedoen dat padveiligheidsmaatreëls strenger afgedwing word, veral teen dronk- bestuurders en minibustaxi’s. Voorts het hulle kreatiewe oplossings bepleit, soos veilige sypaadjies, insluitend beter padtekens, voetoorgange en beter bestuur van spoed deur middel van laer spoedperke, verkeersligte en die bou van spoedbulte, stapgroepe en beter skoolvervoer.
“Hul kommer oor veiliger paaie vir hul kinders moet erken en geïntegreer word in inisiatiewe om veiligheidsmaatreëls te verbeter.”
Stad lewer insette
Rob Quintas, die Stad Kaapstad se burgemeesterkommiteelid vir stedelike vervoer, sê die Stad verwelkom hierdie studie en sal saam met die vervoerbeplanning- en netwerkbestuurspan deur die inhoud van die studie gaan.
“Ons het tans `n aantal ingrypings in plek wat wissel van wetstoepassing tot skolierpatrollieprogramme. Verkeerskalmerende maatreëls word geïmplementeer in gebiede met hoë getalle kwesbare padgebruikers, veral in woongebiede naby openbare fasiliteite, insluitend skole,” het hy verlede week aan TygerBurger gesê.
Hy sê die Stad werk tans aan die bou van spoedwalle, voetoorgange asook mini-sirkels in `n aantal gebiede.
“Ons het ‘n groeiende ontplooiing van skoolhulpbronbeamptes in ‘n aantal gebiede waar leerderveiligheid ‘n bekommernis is …”
JP Smith
Op sy beurt sê JP Smith, die Stad se burgemeesterskommiteelid vir veiligheid dat die stad se wetstoepassingsdienste soveel patrollies doen as wat hulpbronne toelaat.
“Daar is `n magdom eise wat meeding om beperkte hulpbronne. Dit sluit in die veiligheid van voetgangers en skoolkinders,” sê hy.
Volgens Smith het die Stad `n aantal ingrypings geïmplementeer wat deeltydse verkeerspersoneel, skolierpatrollie- en veiligheidsopvoeding-programme insluit.
“Wat die algemene afdwing van verkeersverwante wetgewing betref, reik die Stad se wetstoepassingsdienste weekliks duisende boetes uit. Openbare-vervoer-voertuie word geskut en motoriste in hegtenis geneem vir dronk en roekelose bestuur.”
In die afgelope week, sê hy, het beamptes 46 motoriste vir dronkbestuur en drie vir roekelose en nalatige bestuur in hegtenis geneem.
Hulle het ook 56 423 oortredings aangeteken, 260 openbare-vervoer-voertuie geskut en 1 351 lasbriewe vir inhegtenisneming uitgevoer.
Skoolpatrollie-optredes word gereeld deur die vervoertoepassingseenheid uitgevoer, en oor die algemeen word veiligheidspersoneel in misdaadbrandpute ontplooi.
“Ons het ook ‘n groeiende ontplooiing van skoolhulpbronbeamptes by skole en die omgewing in ‘n aantal gebiede waar leerderveiligheid ‘n bekommernis is. Terwyl die Stad soveel doen as wat dit kan, is dit nodig om te herhaal dat die polisie die primêre agentskap is wat die taak van misdaadbekamping van die Stad het,” sê Smith.




You must be logged in to post a comment.