Delano Nelson (links) van die Elsiesrivier-biblioteek en Tezihano Mnyasta van die Parow-biblioteek konsentreer hard voor die aanvang van die spel. Mnyasta het ook derde plek behaal.

Die eindtoernooi van die jaarlikse Chess@Libraries-skaakkampioenskap is verlede week in die Parow-gemeenskapsaal gehou.

Hier het oud en jonk sedert vroegoggend tot laatmiddag mekaar die stryd aangesê, van biblioteke dwarsoor die metropool.

Die deelnemers aan die toernooi sluit in skaakklublede van die biblioteke Parow, Kraaifontein, Mfuleni, Mithcell’s Plain Town Centre, Rocklands, Goodwood, Elsiesrivier, Dunoon, Athlone, Wynberg, Adriaanse, Gordonsbaai, Pinelands, Southfield, Mowbray, Crossroads, Weltevreden, Woodstock, Kuyasa en Moses Mabhida in.

Die saal was volgepak met tafels en stoele, en skaakborde gereed vir die kampioenskap.

Cherzeley Zyster (links) van die Rocklands-biblioteek en Xola Dukuza van die Koeberg-biblioteek tydens hul spel in die eindtoernooi van die jaarlikse Chess@Libraries-skaakkampioenskap wat verlede week in die Parow-gemeenskapsaal gehou is. Spelers, oud en jonk, van skaakklubs by verskeie Kaapse biblioteke het aan die toernooi deelgeneem. Lees meer op bl 6. Foto: Richard Roberts

Die Chess@Libraries inisiatief word deur personeel by die Stad Kaapstad se biblioteek en inligtingsdiensdepartement bestuur in samewerking met die Wes-Kaapse Skaakfederasie.

Tasneem Adriaanse van dié departement sê die inisiatief hou aan groei.

Vanjaar se eindronde is ‘n mylpaal in die reis om dié sport as ‘n lewendige, gemeenskapsgedrewe program in biblioteke dwarsoor die metropool te vestig, sê sy.

“Skaak het bewys dat dit meer as net ‘n speletjie is. Dit word aangebied by meer as 30 deelnemende biblioteke en dien as ‘n manier om konsentrasie, kritieke denke en probleem-oplossing te help ontwikkel, terwyl dit ook die geleentheid skep vir ontspanning en sosiale verbintenis,” sê Adriaanse.

Sy sê meer as die helfte van die 102 biblioteke wat deur die Stad bestuur word, bestuur nou skaakklubs gereeld.

Gemiddeld bied biblioteke tussen drie en vyf skaaksessies aan per maand, waar ‘n ouderdomsbeperking en ervaring nie ‘n noodsaaklikheid is nie.

‘n Skaaktoernooi wat verlede Donderdag by die Parow-burgersentrum gehou is, het talle deelnemers van dwarsoor die Kaap gelok. Die eindtoernooi van die jaarlikse Chess@Libraries-skaakkampioenskap word deur personeel by die Stad Kaapstad se biblioteek en inligtingsdiensdepartement bestuur in samewerking met die Wes-Kaapse Skaakfederasie. Op die foto sit Zenande Makhamba (links) van die Weltevreden-biblioteek en Enrico Williams van die Elsiesrivier-biblioteek teenoor mekaar tydens hul spel.

Ter voorbereiding vir die jaarlikse eindtoernooi is kwalifiserende rondes by meer as 50 biblioteke tussen April en Augustus gehou.

Die plaaslike kwalifiserende biblioteke, soos Southfield, Gugulethu, Woodstock en Elsiesrivier het meer as 50 deelnemers gelok, van wie baie tot die stadswye eindronde deurgedring het, sê Adriaanse.

Sy sê die groei is te wyte aan die stadige uitbreiding van die program sedert dit begin het — van 70 spelers in 19 biblioteke tot 120 spelers in 24 biblioteke in 2024, en nou meer as 160 deelnemers van 33 biblioteke.

Die wenners vanjaar in die ervare-afdeling is Sandiso Kedama (22) van die Crossroads-biblioteek (eerste plek), Roy Mutunhire (25) van die Kraaifontein-biblioteek (tweede plek) en Tezihano Mnyasta (200 van die Parow-biblioteek (derde plek).

Die beste vrouespeler is Courtney Musakwa (15) van die Athlone-biblioteek.

Vanjaar is die ontwikkelingsafdeling in die skaaktoernooi ook bekendgestel vir spelers wat biblioteke verteenwoordig sonder enige rang of uitgebreide ervaring, as ‘n manier om hulle te motiveer en te ontwikkel.

Die eindtoernooi van die jaarlikse Chess@Libraries-skaakkampioenskap is Donderdag in die Parow-gemeenskapsaal gehou. Credit: Richard Roberts

You need to be Logged In to leave a comment.