Die ongelukstoneel Sondagaand in Bothasig waarin ‘n jongman omgekom het.

Een mens is dood en nog een beseer in ‘n motorfietsongeluk die afgelope naweek in Bothasig. Die voorval het Sondag 5 Oktober op die hoek van Vryburger-rylaan en Boomstraat, Bothasig, gebeur.

Nuus oor die voorval is op die plaaslike Bothasig-gemeenskapspolisiëringforum (GPF) se sosialemedia-blad gedeel.

Die GPF-voorsitter, Mario Borchards, het die voorval bevestig. “Ek was op die toneel en is ingelig dat die bestuurder van ‘n swart sportnutsvoertuig teen ‘n motorfiets gebots en van die toneel af gevlug het. Die bestuurder het ook sy passasier in die voertuig agtergelaat,” sê Borchards.

Volgens hom is die motorfietsbestuurder op slag dood. Nog iemand is na ‘n hospitaal geneem, sê hy. Borchards sê die Bothasig-gemeenskap is in rou gedompel aangesien dit ‘n jongman van die gebied is wat tragies in die voorval omgekom het.

Nooddienste

Hy het voorgestel dat Precinct Response, ‘n private sekerheidsmaatskappy wat eerste op die toneel was, ook gekontak word.

Neal de Wit, eienaar van dié maatskappy, het die voorval Sondagaand laat bevestig. Die maatskappy het ‘n dringende noodoproep ontvang oor ‘n ernstige botsing waarby ‘n voertuig en ‘n motorfiets betrokke was, sê hy.

“Met ons aankoms op die toneel is ons nooddienste deur ‘n aaklige gesig begroet.”

De Wit sê ‘n jongman, wat vermoedelik die motorfiets bestuur het, het reeds aan sy wonde beswyk met hul aankoms. Nooddienswerkers het probeer om die slagoffer by te bring, maar daar is bevestig dat niks meer gedoen kon word om sy lewe te red nie.

“Die aandag is toe gefokus op ‘n jong vrou wat ook by die ongeluk betrokke was. Sy is in erge pyn gevind, en het nie gereageer nie. Ons mediese span het spoedig gewerk om haar op die toneel te stabiliseer voordat sy na die hospitaal vervoer is vir verdere behandeling,” sê De Wit.

Die passasier van die voertuig, wat geïdentifiseer is as die bestuurder se vrou wat op die toneel agtergebly het, is ook na die hospitaal vervoer as ‘n voorsorgmaatreël, sê hy.

“Volgens ooggetuies se verslae het die bestuurder van die voertuig ná die botsing gevlug en sy vrou agtergelaat.

“Die owerhede ondersoek die voorval en versoek enigiemand met inligting oor waar die bestuurder hom dalk mag bevind, om hulle te kontak.”

De Wit het ook medelye met die familie en vriende van die slagoffer betuig.

‘n Foto van die ongeluk is op Maandag 6 Oktober op Arrive Alive se sosiale media gedeel.

Die Bothasig-polisie se AO Shaun Ah-Sing het die voorval bevestig en sê ‘n 19-jarige man is oorlede.

You need to be Logged In to leave a comment.