Judi Hattingh in die rol van Helen Keller saam met Cintaine Schutte (Annie Sullivan) en Bianca Flanders (Kate Keller) in Annie+Helen by die KKNK. FOTO: Hans van der Veen

Om as 13-jarige benoem te word vir twee van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se Kanna-toekennings wil nogal gedoen wees.

Uit meer as 100 produksies by die KKNK kan Annie+Helen van Hennie van Greunen en Pedro Kruger se produksiemaatskappy, Wordsmith’s Theatre Factory, wat sy debuut in die Klein Karoo gemaak het, spog met die meeste Kanna-benoemings – altesaam 10.

Twee hiervan is vir die jonge Judi Hattingh van Durbanville wat vir haar vertolking van die doofblinde Helen Keller benoem is vir “Beste vroulike speler in ‘n hoofrol” en “Beste opkomende kunstenaar of nuweling”.

Die rol was bedoel om Judi, vir wie Kruger beskryf as “slim, verbaal en ongelooflik uitdrukkingsvol”, uit te daag.

Hy vertel die gr. 7-leerder en hoofmeisie van Curro Durbanville se laerskool slyp al ‘n paar jaar aan haar kreatiewe talent deur die geleenthede wat Curro Create, Curro se kreatiewe platform, bied.

“Sy is elke jaar óf landswye wenner, óf naaswenner van die #Straight2Camera-monoloogfees; sy het reeds talle Kryptonite-sertifikate (95% en hoër) van die Curro Arts Superhero-platform verwerf, by die National Youth Theatre Festival uitgeblink en in die Kaapse Kryptonite-konsert gespeel,” sê Kruger.

Verlede jaar is Judi vir Curro Create se gevorderde mentorskapprogram gekies. Van Greunen, mentor en regisseur, wou Judi uitdaag met die karakter van Helen, “wat geen taal het nie, en dus heeltyd op die afgrond beweeg tussen woede en wanhoop”.

Die storie van Helen Keller gaan oor die blinde doofstom dogter van ‘n gesiene familie wie se pad kruis met die jong onderwyseres Annie Sullivan. Die ontmoeting verander albei se lewe onherroeplik en lei tot ‘n lewenslange vriendskap.

Annie+Helen, Van Greunen se teksverwerking van die Broadway toneelproduksie The Miracle Worker delf dieper in Annie se traumatiese lewe as jong meisie en hoe dit haar gevorm het vir haar stryd om vir Helen een ding te leer: taal – die verhouding tussen woorde en dinge, waarsonder Helen ‘n gevangene was in haar stil, donker kop.

Applous

Kruger sê al vyf KKNK-vertonings het staande applous gekry. “Die gehore in die volgepakte teater kon nie uitgepraat raak oor die produksie nie.”

Judi is baie dankbaar dat soveel mense kom kyk het. “Die energie van ‘n gehoor het tog ook ‘n uitwerking op die akteurs se inlewing van die storie. Ons het so lank in ‘n leë saal gerepeteer dat ons reg was om ons storie vir die gehore te wys.”

Kruger vertel die produksie het selfs skynbaar geharde boere-omies se oë laat traan. “Die mense wat met rooi oë en snikke by die venue uitstap het my laat besef dat ons storie ‘n plek in mense se hart vind. ‘n Teaterganger wat al dekades met blindes werk, het vir my vertel hoe nodig sy dink die storie is en hoe bly sy is dat ons dit so outentiek en eerlik doen,” sê Judi.

Sy is baie opgewonde daaroor om eersdaags weer in Helen se vel te kan glip op die Kunstekaap-teater se verhoog by die Suidoosterfees. ” ‘n Mens raak so lief vir die stuk en jou mede-akteurs, dat ek daarna uitsien om die storie weer te speel. Die storie, en my teaterfamilie, is nou deel van my.”

Van Greunen sê dis fantasties om ná soveel harde werk die produksie te sien.

“Iets wat net in jou kop bestaan het, is nou daar, op die verhoog, volledig ingeklee en gespeel deur ‘n fenomenale groep akteurs. Ek kan nie wag vir die Suidoosterfees nie.”

Hy sê Annie+Helen fokus op die uitwerking wat Helen se gestremdheid op elke lid van haar gesin het: Kate, haar ma, gespeel deur Bianca Flanders, moet haar lewe aanpas by haar dogter se realiteit en, in ‘n era waar vroueregte skaars bestaan, moet sy baklei vir die regte van haar dogter.

Kaptein Arthur Keller (Stian Bam) is ‘n veteraan van die Amerikaanse-burgeroorlog, maar sy verhouding met sy gesin kantel wanneer hy voor die vraagstuk van sy dogter te staan kom.

James, Helen se broer, gespeel deur Eldon van der Merwe, moet tevrede wees dat hy nou “die blinde dogter se broer is”, en nie ‘n jong, ambisieuse man met sy eie drome nie.Cintaine Schutte is (saam met Judi) ook as “Beste vroulike speler in ‘n hoofrol” benoem.

Bianca Flanders en Stian Bam is albei vir hul ondersteunede spel, en Van Greunen vir sy regie asook vir “Uitnemende literêre bydrae” vir die nuutgeskepte teks benoem. Die ander Kanna-benoemings sluit in: Beste debuutwerk, Beste toneelaanbieding en Beste Stelontwerp (Rocco Pool).

Die wenners van die Kanna-toekennings word op Donderdag 15 Mei by ‘n glansgeleentheid in Kaapstad aangekondig.

Sien Annie+Helen by die Suidoosterfees op: Saterdag 3 Mei om 11:00 of Sondag 4 Mei om 14:30.

Kaartjies is beskikbaar by Webtickets of by Pick n Pay-winkels.

Judi Hattingh in die rol van Helen Keller saam met Cintaine Schutte (Annie Sullivan in Annie+Helen by die KKNK. FOTO: Hans van der Veen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article