Die lyk van ’n 22-jarige vrou en inwoner van De Zicht is gevind op Saterdag 12 November.


Die Bothasig-polisie sê hy ondersoek ’n saak van roof en moord ná die aanval op ’n vrou van De Zicht in Richwood.

Die voorval het op Saterdag 12 November plaasgevind.

Volgens AO Jacques Mostert, polisiewoordvoerder, is hul beamptes die betrokke oggend vroeg na ’n misdaadtoneel in Sylviastraat in De Zicht ontbied.

“Op die toneel is daar op die lyk van ’n 22-jarige vrou en inwoner van De Zicht afgekom. Die oorledene was glo besig om na haar huis te stap toe sy om 01:40 aangeval is. Tydens die aanval is sy herhaaldelik gesteek. Sy is op die toneel dood,” sê Mostert.

Die enigste item wat vermis word, is haar selfoon, sê hy.

Die polisie-ondersoek duur voort.

Nuus oor die vrou se dood is ook die afgelope naweek op plaaslike sosiale media platforms gedeel.

Miquette Temlett, wyksraadlid, het ook kort ná die aanval op die vrou die nuus met die gemeenskap op haar sosiale mediablad gedeel.

“Ek het slegte nuus en het gedink oor wat om te sê, maar ongelukkig is daar nie ’n maklike manier om dit oor te dra nie, en niks sal dit ook beter maak nie. ’n Inwoner van Wyk 5 is vanoggend buite die De Zicht-landgoed gesteek. Ongelukkig is sy oorlede.

“Ek was vandag self daar en het ook haar man besoek. Ek is in die proses om berading vir hom te reël en sal weer more (Sondag) by hom inloer.

Wakende oog

“Ek sal ook die polisie besoek om vas te stel hoe die ondersoek vorder en sal ’n wakende oog daarop hou vorentoe. Ek is ook besig om vas te stel aan wie die stuk grond behoort om sodoende die oorgroeide bosse uit te sorteer,” skryf Temlett.

Sy het ook genoem dat sommige van die gewapende reaksie-maatskappye, sowel as buurtwagte, ingestem het om hul patrollies in die gebied op te skerp. Wetstoepassingsbeamptes doen ook meer patrollies in dié gebied meer gereeld, en hulle is deur haar in kennis gestel oor die toename in misdaad daar.

Inwoners moet waaksaam wees

“Ek wil by inwoners in die gebied pleit om bedag te wees. Dis is werklikwaar hartseer nuus en my innige meegevoel aan elkeen wat daardeur geraak is,” skryf Temlett.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article