Een van die Parow-biblioteek se jong skaakspelers het verlede week die tweede plek gehaal in ’n gewilde skaak-kompetisie wat by die Parow-stadsaal gehou is.
Skaakklubs van dwarsoor die Kaap het Vrydag aan die finale ronde van die Chess@Libraries-toernooi deelgeneem. Dit was ook vanjaar die grootste aantal inskrywings – altesaam 150 – wat tot dusver aan die kompetisie deelgeneem het, sê die Stad Kaapstad in ’n verklaring.
Verskeie rondes van die toernooi is deur die loop van die jaar by biblioteke gehou om die finaliste te bepaal. Die jong speler Llewellyn Louw het die Parow-biblioteek se naam Vrydagoggend trots hoog gehou.
Mark Sinclair, bibliotekaris, het hom hiervoor gelukgewens.
“Ook, as daar iemand is met die vermoë om die kinders op te lei, kom spreek my by die biblioteek. Kom ons werk saam om die potensiaal van ons jong skaakspelers te koester en te ontwikkel. Saam kan ons ’n sterk en mededingende skaak-gemeenskap in Parow skep,” sê Sinclair.
Die skaakklub het tans nie ’n amptelike afrigter nie, maar die biblioteek sal so iemand met ope arms verwelkom, sê Sinclair.
“Op die oomblik het dit nie ’n permanente skaak-afrigter nie. Die huidige afrigter kom rig elke nou en dan af weens werksverpligtinge, daarom kom die spelers na die biblioteek om op hul eie te oefen. Om ’n konsekwente afrigter te hê, sal die spelers baie baat om hul vaardighede en strategieë te verbeter. Dit sal ook aan hulle gestruktureerde leiding en terugvoer verskaf om hulle te help om hul volle potensiaal in skaak te bereik,” sê hy.
David Baxter van die Durbanville-biblioteek was die algehele wenner.
Skaak al hoe meer gewild
Die Stad sê in sy verklaring die gewilde sport word al etlike jare by biblioteke aangebied, en dat die klubs en deelnemers aansienlik gegroei het. Vanjaar was daar 31 biblioteke wat vir die geleentheid geregistreer het.
Die biblioteke het deur die loop van die jaar kleiner toernooie aangebied, voordat die finale toernooi Vrydag in Parow beslis is, sê die Stad.

“Skaak word dikwels as die sport vir slimkoppe beskou en dat dit nie baie pret is nie, maar die toenemende gewildheid skets egter ’n ander prentjie. Die klubs en die toernooi groei en die finale ronde was ’n naelbyt-stryd,” sê Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdiens en gesondheid.
Die konsep, chess@libraries, is deur een van die Stad se eie bibliotekarisse by die Huguenot Square-biblioteek, Daniel Arendse, tot stand gebring nadat hy opgelet het hoe kinders rondom die skaak-tafels saamdrom en die potensiaal waaroor hulle beskik.
sê Van der Ross.
Sy het die bibliotekarisse, spelers en alle rolspelers geprys vir hul bydrae tot die toernooi.
“Skaak is meer as net ’n sport, en so baie mense het aan boord gekom om te verseker dat die toernooi ’n sukses is. Om skaak te speel, oefen ’n mens jou brein en dit help ook om probleme op te los. Ek wil mense wat ons biblioteke besoek, aanmoedig om by die klubs aan te sluit. Maak die regte skuif, en kom aan boord saam met ons,” sê Van der Ross.





