Die familie van ‘n jong rugbsypeler van die Elsiesrivier-rugbyklub is in rou gedompel nadat hy in Stellenbosch-hoofverkeersweg (Stellenbosch Arterial Road), digby Belhar, in ‘n motorfietsongeluk omgekom het.
Chaydon Jacobs (23) was onderweg huis toe, in Blue Downs, toe die ongeluk plaasgevind het.
TygerBurger het Maandag met die bedroefde ouma van Chaydon, Sharon Jacobs, gesels. “Hy was ‘n ouma-kind. Hy is gebore toe my dogter nog baie jonk was en hy het dus in die huis by ons grootgeword. Ek was ‘n onderwyser by ‘n private skool en hy het reeds op vierjarige ouderdom met skool begin. Op 16 het hy matriek voltooi. Hy was ‘n pragtige kind,” sê die treurende Sharon.
Dit is by die Hoërskool Malibu waar Chaydon se liefde vir rugby posgevat het en hy begin talent wys het toe hy in ‘n gedugte skoolspan gespeel het. Na ‘n draai in die Westelike Provinsie se ouderdomsgroepe en by ‘n universiteit het hy uiteindelik by Elsiesrivierklub beland. Daar het sy liefde vir die spel aanhou groei en volgens sy ouma het hy gelewe vir rugby.
“Hy het nooit ‘n oefening of vergadering misgeloop nie. Vir hom was rugby alles en hy het daarvoor gelewe. Ek en sy oupa het juis Saterdag na die wedstryd tussen hulle en Klapmuts-rugbyklub in Klapmuts gaan kyk. Toe hy klaar gespeel het, het hy so ‘n entjie voor ons gesit en vir my ‘n boodskap gestuur om te vra of hy my motor kan leen om sy meisie te gaan oplaai.
“Hy sou ‘n rygeleentheid van Klapmuts kry om sy motorfiets te gaan haal, voor hy huis toe sou kom. Hy het so ses maande gelede sy motor vir die motorfiets ingeruil,” sê Sharon.
Volgens haar het Chaydon altyd laat weet waar hy is en wanneer hy huis toe kom. Hulle het bekommerd geraak toe hy niks van hom laat hoor nie en nie sy foon antwoord nie. Hulle het toe later uitgevind hy was in ‘n ongeluk. “Daar was so baie mense op die ongelukstoneel en dit is net weer eens ‘n bewys van hoe geliefd hy was. Hy het in die woonstel bo ons huis gewoon en daar was elke naweek vriende.
“Ons sal hom onthou as iemand wat hom altyd oor ander ontferm het en sy liefde vir sy familie, sy sport en vriende. As ek al die boodskappe op sosiale media lees is ek trots op die mens wat hy was,” sê sy.
Die klub het in ‘n verklaring op Facebook gesê hulle treur saam met die familie. “Chaydon was meer as ‘n speler. Hy was die hartklop van ons klub. Sy liefde vir rugby was diep en sy toewyding aan sy spanmaats en gemeenskap het geen perke geken nie. Of hy nou hard op die oefenveld gewerk het, in die kleedkamer hand bygesit het, in die klub se winkeltjie gewerk of selfs net ‘n glimlag gegee het, sy teenwoordigheid was een van warmte, respek en goedhartigheid,” lui die verklaring.
Op sosiale media het boodskappe van medelye ook ingestroom. Cornelius Vernon Peterson skryf dat hy Chaydon ontmoet het toe hy nog by Elsies afgerig het. “Om nog deel van ‘n wedstryd te wees en dan later tragies te sterf, is skokkend en hartseer. Oomblikke soos die herinner ons daaraan hoe broos die lewe kan wees,” lui sy boodskap.


