Die familie van ’n 18-jarige van Ravensmead is rasend van bekommernis nadat die jongman op 9 April werk toe is en nooit by sy werksplek opgedaag het nie.
Wesley Jonathan het by suster gewoon en is soos gewoonlik op die Dinsdag net voor 08:00 van die huis af weg, maar teen 11:00 het sy werkgewer in Kensington sy suster gebel, want hy het nooit by die werk opgedaag nie.
Sers. Melvin Gall, die speurder wat die saak ondersoek, sê Jonathan stap gewoonlik tot in Voortrekkerweg in Parow, van waar hy ’n taxi werk toe neem. “Hy los sy selfoon by die huis omdat hy bang is hy word beroof. Volgens sy suster het hy nie baie vriende nie en werk hy gewoonlik van Maandag tot Saterdag. Sondae is hy net by die huis. Dit is dus ongewoon vir hom om nie huis toe te kom nie. Selfs sy werkgewer het hom as ’n harde werker beskryf, wat nie sommer sou wegbly nie,” sê Gall.
Gall sê as deel van sy ondersoek was hy al by verskeie lykshuise. “Nie by een was ’n onbekende lyk nie. Dit is dalk ’n bietjie goeie nuus,” sê hy.
TygerBurger het die suster van Jonathan gebel om meer uit te vind, maar ’n man wat homself as “Monday” voorgestel het, het haar selfoon beantwoord. Hy het gesê hy is die suster se kêrel. “Ons het van iemand gehoor dat Wesley saam met ’n rasta in Kensington gesien is. Dit sal goeie nuus wees as dit waar is, dan weet ons ten minste hy lewe,” het Monday gesê.
Jonathan het tydens sy verdwyning ’n swart, geskeurde jean, swart K-Way-baadjie, swart veiligheidskoene en ’n groen gholfpet aangehad.
Indien iemand hom gewaar of weet waar hy is, moet hy Gall by 065 830 9251 bel.


