Jong filmster skitter blink

Die ster van die jong aktrise Lamiyah Barnard (11) van Kraaifontein het helder geskyn by die onlangse Florence Internasionale Filmfees, waar sy as beste aktrise bekroon is vir haar hoofrol in ’n plaaslik vervaardigde Afrikaanse rolprent Snake.


Die ster van die jong aktrise Lamiyah Barnard (11) van Kraaifontein het helder geskyn by die onlangse Florence Internasionale Filmfees, waar sy as beste aktrise bekroon is vir haar hoofrol in ’n plaaslik vervaardigde Afrikaanse rolprent Snake.

Die rolprent, met die regisseur Meg Rickards, is gebaseer op Tracey Farren se 2011 roman Snake, en vertel die aangrypende verhaal van die 10-jarige Stella, wat saam met haar ouers in ’n informele nedersetting op ’n plaas woon, waar sy deur die uitdagings van armoede en familietwis in die gesig gestaar word.

Wanneer Jerry, gespeel deur Neels van Jaarsveld, op die plaas aankom waar Stella woon, bly haar pa nugter en haar ma begin weer lag – maar die man met die silwer kruis het hulle nie kom red nie. Terwyl Jerry ’n pad in hul harte insluip, begin sy eie donker wonde wys. Stella moet kies: bly stil en kyk hoe hy haar gesin verwurg – of gebruik die waarheid om vir hul lewens te veg.

Die gevierde rolprent is in Februarie 2024 by die Johannesburgse Internasionale Rolprentfees bekendgestel en is tans op Amazon Prime Video te sien. Die film is ook as beste rolprent aangewys by dié fees en benoem vir die Barcelona Indie-toekennings wat in Februarie in Barcelona plaasvind.

Grappie

Lamiya het haar vreugde oor die prestasie verlede week met TygerBurger gedeel.

“Toe my ma my die nuus gee, het ek eers gedink sy maak ’n grappie met my, maar ek het gesien hoe emosioneel sy raak. In my wildste drome sou ek nie kon dink dat ek die toekenning sou wen nie. Ek is dan net ’n kind. Maar ek het, en dis ongelooflik! Ek is beloon vir al die harde werk en lang ure op die stel. Ek is dankbaar dat ek omring was deur soveel professionele akteurs – vir hul hulp en die selfvertroue wat hulle in my gekweek het,” vertel sy.

Haar ma, Nicky van Schalkwyk, sê dit was so amper of sy het nie die geleentheid gekry nie.

“Lamiya het voor die rolprent geen ondervinding van toneelspel gehad nie. Sy was by ’n agent waar sy modelwerk gedoen het en het so hier en daar in ’n advertensie verskyn het. Toe ek die advertensie vir die rol sien, het ek die agent gevra of Lamiya ’n oudisie kan aflê, maar is daar vir my gesê, nee, sy sal nie ’n kans staan nie en dat ons dit moet los.

“Maar ek het geweet daar is iets spesiaals aan haar. Sy is ’n unieke mensie wat sotverlief is om voor die kamera te wees.”

Nicky het self navorsing gaan doen en op Belinda Kruger se agentskap op Facebook afgekom.

“Ek het vir haar die oudisie-opname aangestuur en kort voor lank is ons gekontak vir ’n formele oudisie in die Paarl.

“Toe sy in daai kamer instap, kon hulle sien daar is iets aan haar, al kon sy nie baie goed Afrikaans praat nie. Ek het vir haar gesê sy moet elke dag by my kom sit en Afrikaans praat en binne drie maande het sy die taal genoegsaam onder die knie gehad.”

Lamiya was net agt toe sy die rol losgeslaan het en nege toe die verfilming begin het.

“Sy het baie hard gewerk en alles ingesit. Maar sy is net ’n gewone meisietjie wat daarvan hou om buite te speel saam met haar maats. Ek dink nie sy het grootkop gekry oor die wen nie,” sê Nicky.

As gr. 5 leerder by die Laerskool Simonsberg word sy deur haar onderwysers geken as ’n “liewe kind wat baie spraaksaam is”.

“Met al die werk aan die rolprent het haar skoolwerk nooit agter geraak nie, en dit is vir my merkwaardig. Sy is ’n oulike meisie,” sê haar onderwyseres, Eldine Carstens.

Lamiya sê oor die toekoms: “Ek wil nou net meer flieks maak en nog toekennings wen!

You need to be Logged In to leave a comment.