Die joernalistiek kan soms ’n onvergeeflike bedryf wees.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, soos meeste joernaliste is ek baie lief vir my werk. Die adrenalien van spertye jaag, pomp in ons are. Die vars ink op jou vingers wanneer jy Woensdag deur die koerant blaai, gee jou hoendervleis, wetend dat ’n berig wat jy gepen het – soms (nes hierdie rubriek) in die middernagtelike ure – ’n impak op iemand se lewe gaan hê, dalk verandering te weeg gaan bring of aan ’n organisasie daai broodnodige hupstoot help gee.
Dit is uiteraard ’n passie. Óf jy het dit en kan jouself nooit in enige ander beroep sien nie, óf jy het dit nie en vind jouself baie vinnig op soek na groener weivelde met beter betaling. Vir die geld doen ons dit definitief nie. Indien jy nie geweet het nie, selfs onderwysers verdien beter salarisse as joernaliste.
Anders as die glanslewe van ons televisie-eweknieë, ly meeste van ons maar redelike eenvoudige lewens.
Ons nie almal ’n Paula van der Lecq wat net sensasie jaag nie, ’n Miranda Priestly wat in haar bloedrooi Pradas almal om haar hiet en gebied nie, óf ’n gevaarlik kreatiewe Lou Bloom wat tot die uiterstes gaan om seker te maak die waarheid staan nie in die pad van ’n goeie storie en ’n vet tjek nie.
Ons is mense, nes jy, met ’n passie.
Maar ons is ook waghonde wat nie kan wegskram van belangrike kwessies nie en waar Jakkals die kat in die donker knyp moet ons dit aan die groot klok hang. Of ons nou dink Robin Hood of die Boondock Saints is reg of verkeerd, ons opinies is nie ter sprake nie. Steel bly steel en moord is moord. Dit is ons werk om al die partye se weergawes te stel, die bewyse op die tafel lê en dit aan die lesers oor te laat om self te besluit wie is nou eintlik reg of verkeerd.
Natuurlik beteken dit jy gaan op tone trap (as die skoen pas … ) en te danke aan die inligtingsera waarin ons leef, is dit ook wanneer die tikkende terroriste hul vingers begin slyp.
Hulle het geen benul hoe die media werk nie, deur hoeveel hoepels jy moes spring om jou inligting te verifieer nie. Nog minder ken hulle die Perskode en ander wetgewing wat voorskryf hoe ons eties verslag moet doen. Jan Rap en sy maat dink skielik hulle kan jou werk beter doen – beter as jy wat drie plus jare (afhangend of jy ’n diploma of graad verwerf het) joernalistiek geswot het. Beter as jy wat honderde koppies koffie aangedra het terwyl jy jou tyd teen geen betaling prysgegee het ter wille van ervaring opdoen in ’n nuuskantoor. Selfs beter as die van ons met 20 plus jaar ondervinding.
Hulle probeer aan jou voorskryf hoe jy jou werk moet doen.
Hulle dreig jou – ek het nie meer genoeg vingers en tone om te tel hoeveel keer ek al gehoor het “julle sal van my prokureur hoor”, en steeds wag nie.
Hulle val selfs jou menswees aan.
Jou “aksies”, al doen jy net jou werk, is nie net onvergeeflik nie, dit lok emosionele afkraking uit. En hierdie persoonlike aanvalle kom nie van gomtorre af nie, maar mense wat hulself ag as hooggeplaaste, beskaafde burgers.
Hier trek ek die streep.
Ek gee nie om hoe hoog jy, die sleutelbord-kryger, jouself ag nie. Geen joernalis – maak nie saak op hoeveel tone daar getrap is nie – verdien om te hoor hulle is (om dit nog mooi te stel) laer as slangbollie of ’n nikswerd nie.
Gaan vee so ’n bietjie voor jou eie deur.
Nes jy, is ons is ook maar net mens.