Twee jeugdiges, onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, is verlede week kort ná ’n poging tot roof op twee voetgangers naby die Bet-elskool aangekeer.
Daar is verskeie voetpaadjies in die gebied tussen die kanaal en die skool, wat as deurgang gebruik word tussen onder meer Wesbank, anderkant die Stellenbosch-hoofverkeersweg, en Kuilsrivier.
AO Liesel Beukes, woordvoerder van die plaaslike polisie, sê die voorval het op Dinsdag 30 April omstreeks 13:30 gebeur.
“Volgens die klaer was hy en ’n vriend te voet op pad huis toe nadat hulle gaan inkopies doen het.“
Beukes sê naby die skool het die voetgangers twee mans, wat stadig gestap het, ’n entjie voor hulle opgemerk.
“Volgens die klaer het daar toe nog mans van Wesbank se kant af aangestap gekom soos wat hulle nader aan die mans gekom het. Een het toe ’n vuurwapen uitgepluk en dit op die man en sy vriend gerig en hulle beveel om stil te staan.”
“Die klaer het toe sy gelisensieerde vuurwapen uitgehaal en die gewapende man gevra om sy vuurwapen te laat val.
“Hy het dit egter vir sy vriend aangegee. Die klaer het toe ’n skoot langs die man afgevuur as waarskuwing, waarna al die mans (die klaer is nie seker hoeveel daar was nie) toe op hom en sy vriend afgestorm het.”
Hulle het blykbaar probeer om die man se baadjie en rugsak van hom af te neem.
Beukes sê tydens die onderonsie het 12 rondes ammunisie uit die magasyn van die klaer se vuurwapen geval. Die mans het volgens die klaer almal in Wesbank se rigting weggehardloop.
Patrollie
Beukes sê ’n patrollievoertuig van die Kuilsrivier-polisie wat in die omgewing was, het op die klaer afgekom, wat toe aan hulle verduidelik het wat gebeur het.
Hulle het onmiddellik na die verdagtes begin soek en die 16-jarige seun wat die vuurwapen op die voetgangers gerig het, in hegtenis geneem.
Die seun is aangekla van gewapende roof en die besit van ’n onwettige vuurwapen in die saak, wat by die Kuilsrivier-polisie geregistreer is.
Beukes sê op dieselfde dag omstreeks 22:30 het beamptes van die Kuilsrivier-polisie met die Mfuleni-polisie (in wie se gebied Wesbank val) opgevolg.
Die 12 rondes wat naby die Bet-elskool uit die vuurwapen geval het, is in die besit van ’n 17-jarige seun in Wesbank gevind.
Die Mfuleni-polisie het die seun vir die besit van ongelisensieerde ammunisie in hegtenis geneem.
Beukes sê beide seuns het verlede week in die Bluedowns-landdroshof verskyn.


