Daar is Saterdag by ’n roerende roudiens van die ontslape leier van The Rockets, Jerry Watt, afskeid geneem.
Watt, wat verlede week aan kanker beswyk het, was vir meer as 50 jaar ’n lid van The Rockets. Hy was die laaste aktiewe lid van die oorspronklike groep en het vir jare die groep se nalatenskap lewend gehou.
By die roudiens in ’n volgepakte Corpus Christi-kerk in Panorama, wat aanlyn uitgesaai is, het verskillende sprekers Watt se lof besing. Daar is ook met musiek hulde aan Watt gebring.
Angus McKenzie, raadslid van Bonteheuwel, het in sy toespraak gesê Watt het Bonteheuwel aan die wêreld bekend gestel.
“Jerry Watt het Bonteheuwel na Australië, Bahrein, die Verenigde Arabiese Emirate, Egipte, Seychelle, Marokko en na verskeie ander lande in Afrika geneem waar ons nog nie eens was nie. Hy het ook vir Bonteheuwel aan (internasionale) sterre soos Usher, Ronan Keating, Alicia Keys, P. Diddy, Eddy Grant, Luther Vandross, The Spice Girls, Wet Wet Wet, Billy Ocean, The O’Jays en soveel ander sterre bekend gestel,” het McKenzie gesê.
Hy het verder gesê wat Watt gedoen het, het hy vir die gemeenskap gedoen.
“Met alle respek gesê, daar is verskillende redes hoekom mense musiek maak. Sommige doen dit vir roem, ander vir geld en ander vir die ervaring. Jerry het dit vir die gemeenskap gedoen. Hy het musiek gemaak om miljoene mense se harte en gedagtes op te hef, om hoop te gee aan dié wat geen hoop gehad het nie.
“Hy wou sien hoe sy gawe verandering bring. Baie musikante kan vandag erken dat hulle hier is omdat Jerry hier was.”





