Rocker Jan Blohm het gisteraand met nie minder nie as drie Bokkie-toekennings weggestap by Bok Radio se Oaklands-Bokkies van 2018.
Die gewilde Kaapse geleentheid, nou in sy agtste jaar, het Sondag oudergewoonte voor ’n stampvol gehoor by GrandWest-Arena in Kaaptad plaasgevind.
Blohm is as sanger van die jaar aangewys; sy nuutste album, Die liefde-album, is as album van die jaar aangewys; en die smeulende enkelsnit “Liefde maak” as liedjie van die jaar.

Blohm het dié sukses toegeskryf aan die liefde en ondersteuning van musiekliefhebbers en aanhangers in die Kaap.
Musiekikoon Steve Hofmeyr is ook bekroon as die nasionale kunstenaar van die jaar en Leon Schuster is onder groot toejuiging vereer vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaans.
“Hier kom my Bokkie!” het hy geskerts toe Wimpie van der Sandt, uitvoerende hoof van Bok Radio, die toekenning aan hom oorhandig het.
“Ek het trane in my oë oor die erkenning. Dit gebeur nie elke dag nie,” het hy in sy aanvaardingstoespraak gesê.
“Dis julle, die publiek, wat my vir 35 jaar lank al motiveer en inspireer. Sonder julle sou ek nie ’n loopbaan gehad het nie,” het hy gesê.
GrandWest-Arena se dak het gelig met ’n uitmuntende musiekvertoning onder leiding van musiekregisseur Loki Rothman, en uitvoerings van onder meer Steve Hofmeyr, Jan Blohm, Snotkop, Jack Parow en Emo Adams.

Ander wenners was: Snotkop (Musiekvideo van die jaar, “Souserig”); Emo Adams (TV-persoonlikheid van die jaar); Sunset Sweatshop (band van die jaar);
Tarryn Lamb (sangeres van die jaar); Justin Harding (sportster van die jaar);
Minke Janse van Rensburg (junior sportster van die jaar); Alex van Dyk (skole-uitblinker van die jaar);
Tygerberg-kinderkoor (koor van die jaar); Le_Lue van der Sandt (omroeper van die jaar);
Bok-sport met Johan Ferreira (program van die jaar);
Yolandie Viljoen (Bokkie-toekenning en Stem le Roux (wooden mic).
Die Oakland-Bokkies van 2018 sal in middel-November op kykNET uitgesaai word.