Izebella Louw gaan Suid-Afrika in Amerika verteenwoordig.


Die drome van ’n 11-jarige meisie van Durbanville –om haar talent op ’n groot verhoog uit te beeld – het ’n werklikheid geword. Izebella Louw vertrek vandag (Woensdag 5 Julie) saam met haar ouers na New York waar sy aan die International Performance Art Championship gaan deelneem.

Volgens haar ma, Izelle, het Izebella reeds van kleins af ’n liefde vir drama. Sy het in gr. 1 aan eisteddfods begin deelneem en baie goed gevaar met 90% plus.

Izebella het kort daarna met dramaklasse begin asook aksentklasse om die Amerikaanse aksent te bemeester.

“Sy het verlede jaar aan die Talent Africa-streekkompetisie deelgeneem en is toe gekies om na die nasionale kompetisie te gaan. Daar het sy die top-drie in haar ouderdomsgroep gehaal en ook die toekenning vir mees belowende aktrise gewen,” verduidelik Izelle.

Sy is toe gekies vir die span wat Suid-Afrika in Julie in New York gaan verteenwoordig. By die kompetisie gaan sy twee stukke opvoer – in een vertolk sy die rol van Anne Frank en die ander is ’n komedie in ’n Amerikaanse aksent oor Sneeuwitjie.

“Ons is ongelooflik trots op haar; sy het definitief ’n talent van God gekry. Sy gryp elke geleentheid aan met alles wat sy het en dit is ongelooflik om te sien dat sy haar passie op die verhoog uitleef,” sê Izelle trots.

Izebella se ouma, Linda Louw, wat in die Jabulani- en Jubileum- aftreeoord in Goodwood woon, sê Izebella is ’n omgeekind en haar talent kom van die Here af. “Sy het ’n uitgaande persoonlikheid, praat spontaan en is nie bang nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article