Ek hoor en lees dit al hoe meer: “Die mense daar buite.”
Dis ’n nuwe Afrikaanse uitdrukking – amper soos “aan die einde van die dag” ’n klompie jaar gelede via Supersport by monde van Naas Botha ook op die taaltoneel verskyn het (maar genadiglik deesdae minder voorkom, dink ek).
Nou die dag (amper aan die einde van daai dag) sê ’n ekonoom weer oor die radio: “En die mense daar buite besef nie in watter ekonomiese verknorsing dié land is nie.”
Dadelik kom die prentjie in my kop op van die ekonoom wat peinsend by sy hoë kantoorvenster uittuur oor die mense onder in die straat. Dan skud hy sy kop nadenkend. Die arme mense daar buite besef nie wat op hulle wag nie. Ellendes is hulle voorland. Hulle is nie so bevoorreg soos die mense hier binne om te weet die ekonomie is op die randjie van ’n ineenstorting nie.
Dié uitdrukking maak my effe ongemaklik. Asof die daarbuite-gebruikers ’n bietjie neersien op ander.
Want wie bedoel hulle sou die mense “daar buite” wees? Is dit oningeligtes? Onparates? Dommes? Of bloot net mense wat nie “hier binne” is nie? En waar presies is “hier binne” dan?
Bedoel die hierbinne-groep dis mense binne die vier mure van hul huis of kantoor of brugklub of intellektuele dampkring?
Met soveel skerp verdelings in ons land ten opsigte van soveel dinge – ras, taal, politieke groeperings, sportspanne, ens. – sien ek nie kans vir nóg een nie!
“Jis, Gert, is jy van die mense daar buite?”
“Nee, Koos, ek’s ook hier binne.”
“Maar ek hoor jou familie is buite?”
“Ja, jong, die spul weier om binne te kom. Klomp dwarstrekkers. Ek slaap nou in die aande binne en my vrou buite.”
“Genade, Gert, hierdie ding dryf nie net ons volk uitmekaar nie, maar wragtie ook ons gesinne!”
“Ja, en die mense daar buite besef dit nie!”
En dan begin ek myself ook bevraagteken: Is ek van die mense daar buite of is ek hier binne? Dit het my die hele verdomde nag wakker gehou. Toe wonder ek onwillekeurig of die mense daar/hier buite/binne ook slapelose nagte oor sulke nietighede beleef? – Rudie van Rensburg