Jan Konstabel (70) het vir meer as drie dekades op die perseel van die Florida Park-sportterrein gebly, waar hy die opsigter en oppasser was.


Die gemeenskap van Ravensmead is die josie in nadat ’n legendariese figuur onlangs deur die Stad Kaapstad uit sy blyplek geskop is.

Jan Konstabel (70) het vir meer as drie dekades op die perseel van die Florida Park-sportterrein gebly, waar hy die opsigter en oppasser was.

Verlede Donderdag het wetstoepassers in meer as 10 voertuie opgedaag en Konstabel, sy gesin en hul honde van die perseel verwyder. Hy is glo nie eens toegelaat om die kos uit sy yskas en sy medikasie saam met hom te vat nie. Beamptes was glo ook arrogant en onbeskof.

Bitter smaak

Jack Feris, ’n gemeenskapsaktivis, sê die manier hoe Konstabel verwyder is, laat ’n bitter smaak in die mond. “As die gemeenskap van Ravensmead wetstoepassers of die polisie uitroep, dan is daar nooit voertuie nie, maar hier is vandag so baie om ’n ou man uit te sit,” sê Feris.

Volgens Feris het Konstabel vir dekades vrywilliglik en doelgerig dienste aan die Stad, sportgemeenskap en die gemeenskap in die breë gelewer.

“Toe hy vir jare sonder vergoeding die opsigter was, het die Stad nie ’n probleem daarmee gehad nie. ’n Mens kan amper sê hulle het hom misbruik. Daarna het die regstelsel hom ook gefaal, want die mense wat hom moes help het hom in die steek gelaat,” sê Feris.

Johannes Bastian, nog ’n gemeenskapsleier wat die uitsetting gesien het, sê dit was skandelik om te sien hoeveel beamptes opgedaag het om ’n ou man te verwyder.

Voel soos krimineel

Volgens Bastian en Feris is een van die redes hoekom Konstabel uitgesit is omdat hy ’n eiendom besit.

’n Emosionele Konstabel sê in ’n video wat tydens sy uitsetting geneem is hy voel soos ’n krimineel. “Hulle kan nie die skollies vang nie, maar hulle kom met ’n klomp karre en mense om my uit te sit. Vir meer as 30 jaar het ek my gemeenskap gedien en dit is die dank wat ek kry. Waar moet ek slaap?” vra ’n desperate Konstabel in die video.

Die Stad het by monde van sy woordvoerder, Jan Kruger, laat blyk dat die destydse Tygerberg-munisipaliteit of die Stad Kaapstad nooit toestemming gegee het dat Konstabel op die perseel bly nie. “Die huis is daar om vir die Stad se doeleindes gebruik te word. Konstabel het ook nog nooit vir die Stad gewerk nie. Die hof het teen einde Februarie 2023 ’n uitsettingsbevel by die hof gekry.

“Daar moet kennis geneem word dat die balju die uitsettingsbevel uitgevoer het met ondersteuning deur die Stad,” sê Kruger. Volgens hom kan hulle nie bevestig waarheen Konstabel ná die uitsetting is nie. “Hy is net van die perseel af verwyder. Daar is ’n geregistreerde huis in sy naam in Ravensmead,” sê Kruger.

You need to be Logged In to leave a comment.