Foto: Pixabay


Inwoners wat langs Nooiensfonteinweg woon, is besig om ’n petisie te onderteken om ’n beplande ontwikkeling in hul gebied te keer.

Dié ontwikkeling deur die Stad Kaapstad se menslike nedersettingsdepartement, gaan uiteindelik uit 78 Breaking New Ground (BNG)-eenhede, 120 Finance Linked Individual Subsidies (Flisp)-eenhede en 2 371 gedienste erwe bestaan.

Teen Vrydag het 266 mense reeds die petisie onderteken.

Die opstellers van die petisie sê hulle het nie beswaar teen die beplande ontwikkeling nie, maar wel teen die gedienste erwe.

Phakamis Keswa van die Silversands-belastingbetalersvereniging sê hulle wil dit duidelik maak dat hulle enige ontwikkeling in die gebied ondersteun, buiten waar erwe uitgegee word.

“Hulle wil vir mense erwe gee wat nie huise kan bekostig nie. Hoe gaan daardie mense dit bekostig om te bou?

“Ons voorsien dat mense wat die erwe kry net informele strukture gaan oprig. Dit gaan die waarde van ons eiendomme laat daal,” sê hy.

Keswa benadruk dat daar vir geen oomblik gedink moet word hulle wil nie hê mense moet huise kry nie.

“As almal in die land huise het, sal die land soveel beter wees, maar ons kan nie die moontlikheid van informele huise op ons voorstoep bekostig nie,” sê hy.

Malusi Booi, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, sê inwoners het niks te vrees nie.

“Ons het deurlopend met die gemeenskap en begunstigdes kontak gehou. Daar sal sekerheid tydens die konstruksiefase wees om te keer dat onwettige besetting of oprigting van informele strukture plaasvind. Wat betref onder meer regulatoriese prosesse vir die projek, soos omgewingsimpakstudies, is alles ingevolge nasionale omgewingsbestuur- en munisipale wette gedoen,” sê Booi.

Op die vraag of die ontwikkeling die waarde van nabygeleë eiendomme gaan laat daal, sê Booi “behuisingsprojekte voeg waarde toe tot vakante grond en het die potensiaal om eiendomswaarde ook te laat styg”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article