Die man wat 51 woonstelle op ’n erf in Bellville wil bou, sê hy wil geensins dat die area se waarde afneem nie.
“Ek gaan persoonlik elke persoon se lease afteken,” sê Andries Laubscher, eienaar van 20 Alphonsesingel in Shirley Park.
Inwoners is warm onder die kraag oor die ontwikkeling, wat reg langs The Love Church International geleë is.
In ’n petisie, wat die TygerBurger onder oë gehad het, sê inwoners daar is al oor verskeie jare in die area verbouings aangebring en die area het reeds kapasiteit bereik.
Hulle maak ook kapsie teen ’n tekort aan parkering en sê die huidige infrastruktuur sukkel reeds om die aantal mense in die area te akkommodeer. “Die area sukkel konstant met kwessies soos gebarste pype weens waterdruk en rioolkapasiteit.”
Die ontwikkeling gaan ook nog laekoste-behuising in die area inbring, sê hulle.
“Dit gaan ’n effek hê op die huidige waarde van eiendomme in die area. Die area sal nie meer aantreklik wees nie en verkopers gaan sukkel om van hul eiendomme ontslae te raak.”
Groot gedeeltes van Bellville sukkel tans met onwettige konstruksie en wonings wat skielik in laekoste-koshuise omskep word. (“Bellville’s illegal housing crisis: Residents sound alarm over unauthorised construction and boarding houses,” 8 Mei)
Laubscher sê egter sy maatskappy beoog om die meerderheid van die woonstelle te hou en net enkele te verkoop. Sodoende sal hulle gehaltebeheer kan toepas.
“Ons het nog nie een stuk eiendom in ons portefeulje verkoop nie.”
Kerk
’n Ander rede hoekom sy ontwikkeling nie die eiendomswaarde sal afbring nie, is omdat hy grond aan die kerk uitverhuur en hoop om daarmee aan te hou.
“As dit suid gaan, gaan ons nie ’n huurder vir die kerk kry nie.”
Hy is hoof van Lemco Holdings, ’n maatskappy wat in 1967 begin is en produkte vir die staalbedryf vervaardig, en Jamalu Investments, wat hoofsaaklik nywerheidseiendomme besit en ontwikkel.
Laubscher sê hy hoop om voorkeur te gee aan mense wat lidmate van die kerk is. “Ons soek working couples wat naby ’n treinstasie moet wees.”
Die kerk het in ’n stadium ’n kleuterskool gehad en hy is baie ten gunste van sulke inisiatiewe.
“Die een hand was die ander een; dit moet ’n veilige en gesonde omgewing wees.”
Hy sê elke ontwikkelaar moet met elke inisiatief geld aan die Stad Kaapstad betaal sodat hulle die infrastruktuur ontwikkel.
“Met enige nuwe erf wat jy ontwikkel, moet jy ’n persentasie betaal.”
Daar is geen onwettige planne van sy kant af nie.
Pierre Jordaan, wat die planne namens Jamalu Investments vir Laubscher ingedien het, sê die meerderheid bome wat op die erf is, gaan behoue bly.
Daar is ook ’n verkeersimpakstudie gedoen en hy sê die naaste woonstelblok gaan “omtrent 5 m” van die grens af wees.
“Daar het baie beplanning in die ontwerp gegaan om te keer dat dit te veel impak op die bure het.”
Inwoners kon in Februarie hul kommentaar oor die ontwikkeling lewer.
Inwoners sê hulle het meer as 100 besware ingedien.
Eddie Andrews, adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en die omgewing, sê egter net 44 legitieme besware is ontvang.


