Inwoners van Rustdal, veral diegene wat naby Blackheath-stasie woon, is keelvol vir die wetteloosheid wat daar heers, veral op ’n Vrydag.
Die omgewing rondom Blackheath-stasie is al jare lank ’n kopseer vir inwoners omdat werkers van die omliggende fabrieke en ondernemings Vrydae die week se “stof” buite die stasie gaan afwas.
Honderde mense drom saam en drink in die openbaar en urineer net waar hulle plek kry.
Anna-Marie Cillie van die plaaslike belastingbetalersvereniging sê hulle weet nie meer watter kan toe nie. “Ons sukkel om reaksie en toepassing van reg en orde te kry van plaaslike owerhede, soos die Stad Kaapstad se wetstoepassers en die plaaslike polisie. Dit gebeur elke dag, maar van 13:00 af op ’n Vrydag is dit chaos. Dis ’n nare gesig om te moet aanskou met openbare drinkery, geraasbesoedeling en openlike urinering. Sommige ondernemings se werknemers staan en drink sommer met hul gemerkte voertuie oop en bloot en dwelmhandel vind ook plaas,” sê Cillie.
Cillie sê dit is nie die gesig waaraan ’n mens jongmense wil blootstel nie. “As wetsgehoorsame burgers met waardes en etiket is dit om van siek te word. Ons kry net elke keer verwysingsnommers, maar niks word gedoen om die probleem op te los nie,” sê sy.
Die Stad se Wayne Dyason sê hulle is bewus van die probleem en daardie plek as ’n brandpunt geïdentifiseer is en deurlopend gemonitor word.