Die inwoners van die D’Urbanvale-woonbuurt in Durbanville is besig om hul moue op te rol vir ‘n “groot baklei”.
Dis ‘n aansoek deur Engen Petroleum om ‘n vulstasie met ‘n geriefswinkel op ‘n erf langs ‘n besige sirkel in dié woonbuurt – reg oorkant die laerskool van Reddam House Durbanville en naby aan die Uitkamp-vleiland – te bou.
Die sluitingsdatum vir kommentaar oor of beswaar teen die ontwikkeling is 9 Junie.
Engen het erf 15760 op die hoek van Falconstraat en Mosselbankrivierlaan verlede jaar vir R10,35 miljoen by die vorige eienaar, Rosa Parks, gekoop.

Die erf is gesoneer vir algemene sakedoeleindes.
Aansoek afgekeur
Die vorige eienaar se aansoek in Mei 2023 om ‘n winkelsentrum met ‘n ankerhuurder en ongeveer vyf kleiner winkels op die erf te bou, is na heftige teenkanting afgekeur.
‘n Vorige aansoek jare gelede om ‘n winkelsentrum daar te bou, was ook onsuksesvol.
Inwoners en ander belanghebbendes het gisteraand in die saal van Reddam House Durbanville se hoërskool vergader om die kwessie te bespreek.
“Die gemeenskap is in vir ‘n groot baklei. Hierdie is die laaste soort besigheid wat langs die laerskool gebou kan word. Dit gons op ons Whatsapp-groepe en ons is besig om ons saak reg te kry om hierdie ontwikkeling te stop,” het Esther Esterhuizen, ‘n inwoner en lid van die D’Urbanvale Community Forum, aan TygerBurger gesê.
“Hoe kan ‘n petrolstasie gebou word lang ‘n laerskool? Kyk wat het gebeur toe ‘n petroltenk nie te lank terug ontplof het nie! Dit is hopeloos te gevaarlik om klein kindertjies bloot te stel aan al die gevare rondom ‘n petrolstasie.
“Die sirkel is reeds ‘n nagmerrie met al die skoolverkeer. Reddam House het sy bes gedoen om dit te verbeter, maar nog maatreëls is nodig,” het sy gesê.
“Ons hoop op ‘n geleentheid om om die tafel te sit met die nuwe eienaars en voorstelle te maak oor die ontwikkeling. Indien nie, sal ons die prosesse volg om dit te stop en hoop ons dat Theresa Uys, ons wykraadslid, ons sal help en ondersteun in die saak,” het sy gesê.
‘Vleiland besoedel’
Beaulah Wilson, voorsitter van die D’Urbanvale Community Forum, het bygevoeg dat weens die hoër ligging van die erf waarop die vulstasie beplan word, die Uitkamp-vleiland moontlik besoedel kan word. “Al die stormwater van daardie hoërliggende, hoëdighteid-area stroom na die vleiland,” het sy gesê.
Wilson meen ook dat die 3,5 ton-gewigsbeperking op voertuie in Mosselbankrivierlaan meebring dat petroltenkwaens nie daarop toegelaat word nie.
“Die pad is nie gemaak vir swaarvoertuie nie. Die vulstasie sal ook nóg verkeer na D’Urbanvale lok, terwyl ons juis hier gekoop het vir die landelike gevoel van die woonbuurt,” sê sy.
Die aansoek, wat deur Terraplan-stads- en streeksbeplanners namens Engen Petroleum gebring word, behels die voorgestelde toestemming om ‘n vulstasie daar te bou, permanente afwyking om ‘n ingang en/of uitgang in Mosselbankrivier-rylaan en Falconstraat te bou, asook goedkeuring van die terreinontwikkelings- en landskaperingplan om ‘n vulstasie daar te bou.
Die aansoek sluit ook die bou van ‘n geriefswinkel met ‘n kitsbank en ‘n Quikstop-bakkery-en-kitskoswinkel in.
Luidens die aansoekdokument word aansoek gedoen om afwyking van die munisipale verordening vir beplanning om toe te laat vir ‘n wyer ingange na die vulstasie om voorsiening te maak vir petrolwaens.
Die aansoek kan bestudeer word by die munisipale kantore in Durbanville van Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 14:30.
Diegene wat ‘n afspraak wil maak met ‘n amptenaar om ‘n spesifieke aspek van die ontwikkeling te bespreek, kan ‘n versoek rig per e-pos na Northern.hub@capetown.gov.za.
Besware of kommentaar moet op ‘n voorgeskrewe vorm gestuur word na comments_objections.northern@capetown.gov.za.
Die sluitingsdatum vir kommentaar is Maandag 9 Junie.
Die voorgeskrewe vorms vir kommentaar kan afgelaai word by http://www.capetown.gov.za/LandUseObjections






You must be logged in to post a comment.