Inwoners van woongebiede rondom die Tygerberg-natuurreservaat ruik nog plek-plek rook na verwoestende brande wat verlede week op die berg gewoed het.
Baie beleef egter ’n hernude sin van gemeenskap nadat hordes skenkings vir brandbestryders ingesamel is.
Verskeie brande het Donderdag vir groot oproer gesorg nadat dit die oggend ontstaan het.
Inwoners van beide die Kanonberg-landgoed en Oude Westhof moes hul huise deur die dag om veiligheidsredes ontruim.
Ronel Viljoen, raadslid vir Wyk 70, wat Kanonberg, Oude Westhof en Welgedacht insluit, sê inwoners en besighede het dadelik ingespring toe hulle hoor bystand word benodig. Die plaaslike Spar het skenkings ontvang en die Proteavallei-kerk het ook aangebied om diegene wat ontruim het, se besittings te stoor.
“Wyk 70 het soos een man opgestaan en gehelp.”
Sowat 20 brandbestryders is ontplooi om die brand te bestry en twee helikopters is ingespan om water uit ’n nabygeleë dam te skep om die brand te blus, se Jermaine Carelse, woordvoerder van Stad Kaapstad se brand- en reddingdienste.
’n Paar van die brandbestryders is later vir hitte-uitputting behandel.
Die brand is Donderdagaand in bedwang gebring en hulpbronne is om Vrydag vanaf 09:00 afgeskaal.
Op Saterdag het verskeie Welgedacht-inwoners gereed gestaan om te ontruim toe ’n wegholbrand al nader aan die landgoed beweeg het.
Brandbestryders kon egter die brand in bedwang bring voordat enige skade aangerig is of iemand gevra is om hul huise te verlaat.