’n Groep inwoners van Wyk 116 is nou gekwalifiseerde noodhulp-verleners.
Solomon Philander, wyksraadslid, en Abraham Griesel, proposionele raadslid, het R100 000 bewillig vir die opleiding.
Die deelnemers was vroeë-kinderontwikkelingspraktisyns in plaaslike sentrums in Wyk 116.
“Dit is noodsaaklik om ’n veilige omgewing vir ons kinders te skep. Ons moet opvoeders hê wat in staat is om te reageer op die veiligheid van die kind; dit sluit noodhulp in,” sê Philander.
’n Paar buurtwag-vrywilligers was ook deel van die groep.
“Hulle trek voordeel uit die opleiding aangesien hulle eerste in ons gemeenskap reageer by ongelukke, geringe beserings en wanneer geweld uitbreek.”
Al die skole in Wyk 116 is genooi om ’n verteenwoordiger na die noodhulpopleiding te stuur.
”Baie kinders is die helfte van hul dag by die skool. Geringe beserings vind by die skool plaas en dit is belangrik dat ons iemand het wat bevoeg is om ’n noodhulpverlener te wees om te help en assessering te doen as daar ’n noodsaaklikheid is om die ambulans of mediese hulp te bel,” sê Philander.
’n Tweede sessie sal in April begin.
“As wyksraadslid wil ek die deelnemers gelukwens en vertrou dat die sertifikaat hulle sal help om toegang tot baie ander geleenthede te kry,” sê Philander.