Slaggate in Parow-Wes is glo besig om dié buurt se voorkoms erg te benadeel.
Só meen een van die inwoners in die gebied wat aan TygerBurger gesê het dat al die lane vol slaggate is, maar dat veral Vierde-laan die ergste is.
“Vierde-laan is pateties; die res van ons strate lyk nie beter nie. Ons kan net nie meer uithou en die swak instandhouding en diens langer aanvaar nie,” sê Johan Swart, ’n inwoner.
Swart sê talle klagtes is reeds hieroor aan die Stad Kaapstad gerig. “Ons het al baie e-posse aan die Stadsraad gestuur aangaande die slaggate in Parow-Wes,” sê hy.
’n Nuwe teeroppervlak is verlede maand op Frans Conradie-rylaan tussen Tallentweg se verkeersligte en die verkeersirkel by McIntyrestraat aangebring, sê hy. Swart wil weet waarom ander strate nie die nodige aandag ontvang nie.
“Ek het nou al hoeveel versoeke gestuur ten opsigte van die uiters swak toestand van ons paaie in Parow-Wes. Daar word net nie gevorder nie.
“Dit strek oor jare. Van 2019 af het alles net eenvoudig ineengestort.”
Waterpype glo die oorsaak
“Die hoofoorsaak was om die drukking in die waterpype te verlaag en onoordeelkundig weer te verhoog, Dit het ons ou verouderde waterpype die een ná die ander laat bars. Dit het maande, selfs jare, geneem om dit te probeer herstel, wat steeds nie gedoen is nie. Hier en daar is lapwerk gedoen,” meen Swart.
Swart sê pogings is ook aangewend om die plaaslike raadslid te kry om die probleem op te los.
“Wat my erg ontstel, is dat Tallentweg, wat ons vertoonstraat is, ’n nuwe teer-oppervlak gekry het. Nou het Frans Conradie-rylaan van die sokkerveld se verkeersligte tot by McIntyrestraat se verkeersirkel ook ’n nuwe teerblad gekry.
“Daar was geen probleem met die ou teerblad nie. Dit was nog 100% gangbaar. Hoe word prioriteite bepaal?” wou Swart weet.
In reaksie hierop het Roger Cannon, wyksraadslid, genoem dat hy wel weet van die toestand van strate in dié gebied.
“Die paaie in Parow-Wes, erken ek, is nie in ’n baie goeie toestand nie.
“Daar is talle slaggate, en die gebarste pype wat herstel word, is grotendeels daarvoor verantwoordelik.
“Die Stad Kaapstad het egter met ’n projek begin om al die ou pype te vervang met nuwe pype. Dit sal in Parow-Wes begin en daarna in Fairfield Estate.”
Projek begin om waterpype te vervang
Die paaie wat aandag sal ontvang, sluit in Mosselstraat, Pointstraat, Balfourweg, Tweede-, Derde- en Vierdelaan.
“En dit sal deel vormvan die eerste fase,” sê Cannon.
Die werk sal vandeesmaand begin en sal tot April duur.
In Fairfield Estate sal Pleinweg, Fairfieldstraat en Seddonweg gediens word. “Ons doen ’n beroep op inwoners om geduldig te wees tydens hierdie periode, aangesien sommige paaie gesluit sal word tydens die vervanging. Ons hoop dat dit ’n verbetering aan die paaie se toestand in Parow-Wes en Fairfield sal bring,” sê hy.


