DIe probleemhuis te 44 Mooigezichtstraat in Chrismar. FOTO: Nielen de Klerk


Chrismar-inwoners eis nou aksie nadat ’n man ’n nier verloor het in ’n aanval deur mense wat glo in ’n berugte probleemgebou in die area bly.

Die man, Wiehan Smalberger, werk vir OK Foods Blomtuin in Suikerbosstraat en het voorverlede Donderdag rondom 06:00 vanaf ’n taxi-stop in die Voortrekkerweg verby die huis in Mooigezichtstraat gestap toe hy aangeval is.

Hy is verskeie kere met ’n mes in sy gesig, niere en rug gesteek.

Smalberger het dit reggekry om weg te kom en tot by die Shell-vulstasie in Suikerbosstraat te loop, waar hulp ontbied is.

Sy foon is in die proses gesteel.

Edward Ribeiro, eienaar van die OK Foods, sê Smalberger se nier moes weens die voorval verwyder word en hy het vir dae lank in die waakeenheid van die Karl Bremer-hospitaal aangesterk. Hy werk al sowat agt jaar lank vir die winkel.

Ribeiro sê hulle is almal geskok oor die voorval. “Ek dink nie hierdie is net ’n rooftog nie,” sê hy. “Hierdie is iemand op dwelms.”

Gesteel

Die huis in Mooigezichtstraat is al vir maande ’n reuseprobleem vir inwoners en buurtwaglede.

Volgens Theo Galloway, voorsitter van die Chrismar-buurtwag het niemand by die huis ingetrek of die erf netjies gehou nadat die eienaar ’n ruk terug oorlede is nie. Die huis is egter gou deur haweloses beset en is deesdae ’n hool met geen leefbare vertrek wat oor is nie, sê hy.

“Alles wat gesteel kan word, is al gesteel.”

Baie kamers is uitgebrand nadat vuur binne gemaak is en by ander is die reuk van ontlasting sterk.

Oorgroeide gras steek plek-plek deur waar digte rommel die meeste van die oppervlak oorgeneem het.

Galloway sê die situasie het al so handuit geruk dat hy nie self sonder ’n wapen in die aand die perseel sal besoek nie. Hy het ook nie dat TygerBurger se joernalis sonder bystand besoek aflê nie.

Hy en ander buurtwaglede verwyder dikwels rommel en haweloses by die erf, maar daar is binne enkele ure weer iemand wat daar bly.

Baie sê glo dis hul huis en hulle het die reg om daar te bly.

Galloway het al menigte kere die Stad, die polisie en die koerant om hulp genader, maar met min verandering.

Wayne Dyason, woordvoerder vir Kaapstad se wetstoepassingsafdeling, sê die gebou is amptelik volgens die stad se munisipale verordeninge as ’n probleemgebou verklaar.

Hy raai inwoners aan om misdaad by die polisie aan te meld.

Annelize van Zyl, raadslid vir die area, sit self met haar hande in haar hare oor die huis.

“Tans word daar maandeliks, ingevolge dié spesifieke regulasies (van die munisipale verordening), ’n addisionele bedrag bo en behalwe die maandelikse tariewe en belastings gehef,” sê sy.

Die Stad het nou ’n kwotasie bekom om die deure en vensters toe te bou in ’n poging om mense te keer om dit onwettig te betree. Die spesifieke stadsdepartement het egter nie voorheen die nodige fondse hiervoor beskikbaar gehad nie.

“Die fondse is egter nou beskikbaar en die bouwerk om die huis te seël, sal in die nabye toekoms plaasvind.”

Sy sê die Stad het sover al die nodige en relevante stappe geneem en sal, indien nodig, regstappe neem.

“Die Stad sal alles is sy vermoë, binne sy mandaat en die toepaslike wetlike raamwerk gedoen om die situasie te bestuur. Met behulp van die plaaslike buurtwag, die samewerking van die gemeenskap en die polisie kan die situasie effektief hanteer word.”

Internasionale probleem

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê die Stad het ’n spesiale eenheid wat op sulke klagtes reageer.

“Probleemgeboue is ’n uitdaging – nie net in ons Stad nie, maar oor die wêreld heen,” sê hy.

Die stad het boetes op 334 eiendomme gehef, wat nog as probleemgeboue gesien word.

Uitdagings is volop, soos in hierdie geval waar ’n boedel nog nie afgehandel is nie. Ander probleme sluit in onwettige besetting en eienaars wat self pad gegee het.

Hy sê inwoners moet gou optree om potensiële probleemgeboue aan te meld sodat hul span vroeg die impak kan probeer beperk.

In uiterse gevalle kan die Hooggeregshof dalk ’n uitsettingsbevel of administrasiebevel bekom, soos in die geval van die Bostonsentrum in Voortrekkerweg ’n paar jaar gelede.

“Ek wil die gemeenskap herinner dat sulke gevalle tyd neem en ons personeel ingevolge wetgewing moet optree.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article