Alan van Zyl en sy vrou, Lorine, het Woensdagoggend 19 Februarie al die pad van Mosselbaai gekom waar hulle vakansie gehou het. Alan is genooi na Barons Volkswagen in Bellville om sy prys op te eis.FOTO: Heleen Boshoff


Wat Alan van Zyl (66) van Durbanville eers as ’n slenter (scam) afgemaak het, was inderdaad ’n verrassende gelukstrekking wat hom ’n splinternuwe Polo Vivo ryker gemaak het.

Hy en sy vrou, Lorine, is Woensdagoggend 19 Februarie al die pad van Mosselbaai, waar hulle vakansie gehou het, genooi na Barons Volkswagen in Bellville om sy prys op te eis.

Gelukkig was dié 750 km-retoerrit uit en uit die moeite werd toe die motorhandelaar se personeellede met sy intrapslag ’n klomp blinkertjies bo-oor die nuwe ryding laat reën het.

“Ek was regtigwaar verras! Ek het aanvanklik gedink dis ’n scam, omdat byna enige selfoonoproep so ’n gevaar inhou. Maar ek het eendag op die DStv-app rondgespeel en vir dié trekking ingeskryf – dit het my niks gekos nie – en wraggies, daar wen ek!”

Alan, ’n afgetrede streeksbestuurder by Standard Bank, meen dié was die grootste geluk wat hom nog in die lewe getref het. “Die meeste wat ek voorheen al gewen het, was maar R25 met ’n lottokaartjie,” skerts hy.

Sindi Gwamanda, handelsmerkbestuurder vir die Volkswagen-groep, het aan TygerBurger vertel dat dié dag een van die beste dae vir een van hul gelukkige wenners was.

“Hierdie kompetisie word deur SuperSport aangebied – alles ter viering van ons vennootskap met die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa). Ons is die amptelike voertuigborg vir Safa en borg die nasionale sokkerspan. Dit sluit alles in, van Banyana Banyana tot ons o.15-span.

“Uiteraard is sokker een van die sporte waarvoor ons as ’n besigheid baie passie het, veral die ontwikkeling en volhoubaarheid van grondvlak-sokker,” sê sy.

Soos Alan sy nuwe paar sleutels voor die kameras gewikkel het, het Lorine die oomblik met deernis geniet.

“Hierdie is die gelukkigste wat ek hom in jare gesien het! Wat ’n wonderlike verrassing,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.