Inisiatief werp vrugte af in Bishop Lavis

’n Geestelike leier van Bishop Lavis sê te veel mense praat net, maar slaan nie hand aan die ploeg om bendegeweld in dié voorstad op te los nie.


’n Geestelike leier van Bishop Lavis sê te veel mense praat net, maar slaan nie hand aan die ploeg om bendegeweld in dié voorstad op te los nie.

Bishop Lavis is een van die gevaarlikste plekke op die Kaapse Vlakte en bendegeweld is ’n daaglikse verskynsel. Maar as dit van Apostel Peter Barnes afhang, gaan dit nie vir lank wees nie.

Barnes en nog twee geestelikes, Ivan Waldeck en Wesley Moodley, staan aan die voorpunt van ’n inisiatief om bendebedrywighede in Bishop Lavis hok te slaan deur praktiese projekte. So suksesvol is die projek dat twee bendelede, geswore vyande, nou al saam met hulle werk. Hierdie samewerking het gelei tot ’n skietstaking in die gebied wat as Die Berge bekend staan.

Barnes sê toe hy jare gelede in die destydse Transkei was, het hy by ’n snoeker- en sokkerklub aangesluit.

“Jesus was gemaklik tussen sondaars, so ek was gemaklik in plekke waar predikers nie gewoonlik gemaklik is nie. In 2019 het ek sokker gebruik om strydende bendes in ’n gemeenskap bymekaar te bring. Met die Futsol-toernooi het meer as 2 000 mense bymekaar gekom en daar was geen geweld nie. Uit die toernooi is ’n Bishop Lavis-Futsolklub gebore,” sê Barnes.

Hoewel die inisiatief suksesvol was, het die Covid-19-pandemie ’n stokkie daarvoor gesteek.

In Desember verlede jaar het lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum Barnes genader en gevra of hy nie ook by Die Berge betrokke wil raak nie.

“In daardie stadium was daar twee strydende groepe wat mekaar voos geskiet het. Ek het op 12 Desember met die twee leiers vergader en hulle het ingestem om mekaar te ontmoet. Op 13 Desember het ek, Waldeck en Moodley met Howard Jansen en Cheslin Domingo, die bendeleiers, op ’n geheime plek vergader. Daar was nog ander mense, dus was ons uiteindelik 12 mense om die tafel en die planne is daar gesmee,” sê Barnes.

Kort daarna, op 17 Desember, is ’n groot Futsol-toernooi gehou. “Mense was maar skepties, maar die geleentheid het sonder voorval verloop. Jansen en Domingo het ook met die skare gepraat en om verskoning gevra vir hul dade. Dit was die begin van groot veranderinge, want daar heers ’n skietstaking in Die Berge,” sê Barnes.

Hy sê egter hul werk is nog nie klaar nie. “Ons, saam met ander belangegroepe, is nou in ’n WhatsApp-groep en sodra ons hoor van geweld wat opvlam, weet ons met wie om te praat. Ander mense uit ander gemeenskappe het al gevra dat ons hulle moet kom help, maar ons wil eers ’n werkbare model hier vestig wat ons elders kan gebruik,” sê Barnes.

You need to be Logged In to leave a comment.