Voor verdere ontwikkelings in Vredekloof en omringende gebiede kan voortgaan, is dit noodsaaklik dat ’n omvattende verkeersimpakstudie van die hele gebied gedoen word met dieselfde kriteria – deur die tel van voertuie tydens spitstye.
Daarvolgens moet die nodige paaie eers gebou word voor die ontwikkeling begin.
Só meen Leon Brynard, bestuurder van die Vredekloof-stadsverbeteringsdistrik (VCID), tesame met inwoners wat voel dat die Stad Kaapstad nou na sy belastingbelaters moet begin luister wat impakstudies betref.
Sedert 2018 plaas massa-ontwikkelings in dié klein gebied toenemende druk op pad- en ander infrastruktuur. Verkeersimpakstudies is stuk-stuk afgehandel sonder om die geheel in ag te neem. Die laerskool is in 2018 voltooi met plek vir 1 240 leerders en is reeds 70% vol. Terselfdertyd is 679 woonstelle in Brackenfell-boulevard gebou.
Met die nuutste ontwikkelings wat nou ter sprake is in Vredekloof en Glengarry is aansoek gedoen om tesame 2 272 wooneenhede te bou.
Aftreeooord
Ander onlangse aansoeke sluit in ’n aftreeoord met 171 wooneenhede en kantoorkompleks met 383 parkeerplekke.
“Is dit onbillik vir inwoners om te verwag dat die ontwikkelaars van al hierdie ontwikkelings deur die Stad verplig moet word om een volledige allesomvattende verkeersimpakstudie te doen, en volgens die uitkoms daarvan, alle opknapwerk eers af te handel uit die ontwikkelingsbydraes en, indien daar tekorte is, dit self finansier,” sê Brynard.
Brynard hou voor dat raadslede oor die jare die verlenging van die R300 noordwaarts as verligting vir die verkeersopeenhopings, veral tydens spitsverkeer, aan inwoners voorgehou het, met die wete dat dit nie in hul hande was nie en die onus dan op Sanral geplaas het.
In ’n berig in TygerBurger op 12 April verlede jaar het die Subraad 2 in sy kommentaar gemeld dat meer aansluitings suidwaarts nodig is en dat dit verligting op interne paaie soos Brackenfell-boulevard sal bring.
Maar, volgens die jongste inligting wat die VCID vanaf Sanral ontvang het, word dit bevestig dat dit nie die geval sal wees vir baie wat tans van Brackenfell-boulevard gebruik moet maak nie.
“Die verlenging van die R300 volgens die huidige plan maak geen voorsiening vir ’n suidelike aansluiting by De Bron nie, maar slegs vir ’n noordelike aansluiting,” sê Brynard.
“Dit is ook net logies dat geen persoon bokant die N1 wat kinders by die Brackenfell-skole onderkant die N1 moet aflaai, of selfs besighede in die sakekern besoek, dit nie via die R300 sal doen nie. Die verwagte voltooiing, indien alles volgens plan verloop, sal in elk geval op die vroegste eers teen einde 2029 wees. Die huidige beplanning is ook dat De Bronweg bo-oor die R300 sal gaan, so daar wag nog baie ontwrigting en frustrasie op inwoners en padgebruikers terwyl daardie brug oor die R300 gebou word,” sê Brynard.
Wat betref die N1 en spesifiek die verbreding van die brug in Brackenfell-boulevard, het Brynard verlede Vrydag die projekbestuurder van Sanral ontmoet.
“Ek was verbaas oor sy terugvoer en die beplanning wat tans aan die gang is, en verras om te verneem dat hy wel besig is met dringende beplanning.”
Brynard het verneem dat die verbreding van die brug tans ’n prioriteit is, tesame met die afrit by Brackenfell-boulevard met aansluiting by Goedehooplaan.
Dubbelpad
“Baie belangrik natuurlik is dat dit op voorwaarde is dat die Stad Brackenfell-boulevard aan albei kante van die N1 na ’n dubbelpad sal verbeter.
“Dit was ook nog altyd my mening dat dit onsinnig sou wees, soos baie beplanningsaansoeke al aanbeveel het, om die boulevard te verdubbel met steeds ’n enkelbaan oor die N1.
“Daar sal ook baie mooi besin moet word oor die aanbring van verkeersirkels, waarvoor die Stad nou baie lief geraak het. ’n Verkeersirkel kan verkeer laat vloei tydens matige verkeer, maar kan dit tot stilstand bring tydens spitsverkeer,” sê Brynard.
Hoewel die reaksie van inwoners tydens die onlangse publieke deelnameproses met betrekking tot die nuutste ontwikkelings oorweldigend was, was daar ook sommiges wat gevra het, “sal dit dan help om kommentaar te lewer”?
“Daar is regtig ’n gevoel onder baie belastingbetalers wie van mening is dat die Stad nie omgee nie en hulle net ignoreer,” sê hy.




