Koos Minnaar van die plaas Kromrivier naby Klipheuwel met sy nuwe ID is by sy dogter, Jessica.
Koos Minnaar van die plaas Kromrivier naby Klipheuwel met sy nuwe ID is by sy dogter, Jessica.

Vir ‘n 56-jarige man wat sy been verloor het en as ‘n gevolg daarvan ook sy werk as plaaswerker, het die hulp van die projek ID Help soos manna uit die hemel gekom.

Koos Minnaar van die plaas Kromrivier het sy identiteitsdokument (ID) op skool reeds verloor. Dit was moeilik om ‘n dag by die werk af te neem om aansoek om ‘n nuwe een te doen, en hy kon daarom nie aansoek om werkloosheidsversekering of ‘n ongeskiktheidstoelae doen toe hy sy been verloor het nie.

ID Help is ‘n organisasie wat onder die sorg van die Durbanville Gemeenskap Trust ongedokumenteerde mense in Fisantekraal help om geboortesertifikate en ID’s te bekom.

Staatstoelae

Minnaar het ID Help in 2022, nog voor hy sy been verloor het, genader en sy handgeskrewe geboorte-inskrywing is met groot moeite en tydsverloop opgespoor in ‘n geboorteregister van Richmond in die Noord-Kaap, wat in die Kaapse Argiewe gestoor was. Met ‘n gesertifiseerde afskrif van die geboorte-inskrywing kon hy om ‘n geboortesertifikaat en toe ‘n ID aansoek doen. Dié het hy eindelik in Desember verlede jaar ontvang en kan hy nou ‘n staatstoelae vir sy ongeskiktheid ontvang, vertel Nelleke Meintjes, koördineerder van die ID Help-projek in Fisantekraal.

Minnaar is een van talle mense in Fisantekraal wat nie oor ‘n geldige ID beskik het nie. “Baie het ID’s maar dit is so beskadig dat dit onbruikbaar is, of dit het weggeraak of dit kan nie uitgereik word nie omdat die persoon se geboorte nog nie geregistreer is nie,” sê Meintjes.

DNS-toetse

Sedert Januarie 2023 tot einde April vanjaar is 388 ID-aansoeke ingedien; 78 aansoeke is ingedien vir laat registrasie van geboorte, waarvan 51 suksesvol afgehandel is; 16 DNS-toetse is laat doen; 28 moeilike skoolplasings is gefinaliseer; 20 babas jonger as ‘n jaar se geboortes is geregistreer; 980 passasiers is vervoer en meer as 10 513 km is deur vrywilligers gery. In 2024 alleen het die koste van die projek R69 542 beloop. Die enigste bron van inkomste vir ID Help Fisantekraal is donasies, borgskappe en fondsinsamelingsprojekte.

Galakonsert

‘n Galakonsert ten bate van ID Help Fisantekraal word op Sondag 3 Augustus vanaf 15:00 in die ouditorium van die Hoërskool Durbanville aangebied.

Die program is saamgestel deur Hester Smit, met topkunstenaars uit die noordelike voorstede. Dit beloof om iets vir almal te bied – van gewilde uittreksels uit operas, musiekblyspele, klassieke en ligte musiek, tot koorsang, instrumentale ensemble en Spaanse danse. Kaartjies teen R200 elk (ligte verversings ingesluit) is by Webtickets of by Pick n Pay-winkels beskikbaar.

“ID Help Fisantekraal fokus op die mense van Fisantekraal en omliggende plase, waar hoë vlakke van armoede, werkloosheid, sosiale onstabiliteit en lae vlakke van akademiese onderrig bydra tot die wydverspreide gebrek aan dokumentasie.

“In hierdie konteks word die projek meer as net ‘n administratiewe diens; dit is ‘n instrument vir sosiale geregtigheid, bemagtiging en transformasie,” sê Meintjes.

“Buiten die vervanging van verlore of beskadigde ID’s is daar baie gevalle waar geboortesertifikate ontbreek, wat ‘n voorvereiste is om vir ‘n ID aansoek te doen. Laatgeboorteregistrasies moet dan gedoen word. Daar is selfs gevalle van geboortes wat binne ‘n familie oor generasies heen nie geregistreer is nie, waar laatgeboorteregistrasies van die oudste tot die jongste dan gedoen moet word – ‘n langsame, moeilike en arbeidsintensiewe proses,” sê sy.

Onsigbaar

Francois Berry, raadslid vir Wyk 105, wat Fisantekraal insluit, sê hy ondersteun die projek.

“Hierdie projek bied lewensveranderende hulp aan individue – veral diegene uit benadeelde en landelike agtergronde, wat nie geboortesertifikate of Suid-Afrikaanse ID’s het nie. Daarsonder bly hulle onsigbaar in die oë van die staat en is hulle nie in staat om toegang te verkry tot die fundamentele regte en dienste wat menswaardigheid en ontwikkeling ondersteun nie,” sê hy.

ID Help Fisantekraal help ook ouers om skoolpligtige kinders wat nog nie skool bywoon nie, in te skryf en bied só die volgende generasie ‘n kans op ‘n beter toekoms. Hulle staan ook mense by met die proses om verlore of beskadigde huweliks- en doodsertifikate te vervang.

Laat registrasie van geboortes

“Deur hierdie ongedokumenteerde individue te help met die dikwels komplekse proses om wettige dokumentasie te bekom, herstel die projek nie net persoonlike agentskap en erkenning nie, maar maak dit ook die deur oop vir ‘n wye reeks geleenthede, soos toegang tot werk, onderwys, gesondheidsorg, maatskaplike toelaes, behuising, finansiële dienste en die reg om te stem,” sê Berry.

“Die ID Help Fisantekraal-projek het ‘n model van praktiese impak en gemeenskapsopheffing gedemonstreer. Ek ondersteun die voortsetting en uitbreiding van hierdie projek heelhartig. Dit is ‘n bewys van wat bereik kan word wanneer gemeenskapsgedrewe pogings met deernis, samewerking en toewyding begroet word. Dit gaan nie net daaroor om mense te help om ID’s te kry nie; dit gaan daaroor om hulle te help om hul plek in die samelewing terug te eis,” sê hy.

Konsultasies

ID Help Fisantekraal doen persoonlike konsultasies op Woensdae vanaf 13:00 tot 16:30. Die projek is verder afhanklik van vrywilligers wat hoofsaaklik van hul huise af werk om met hospitale en skole te skakel om inligting op te spoor. Hul bystand behels ook laat geboorteregistrasies, die reël van DNS-toetse as geen bewys van geboorte gevind kan word nie, die vervoer van kliënte, asook hulp aan ouers met moeilike skoolplasings van kinders sonder geboortesertifikate.

  • Kontak Jan Burger, ‘n vrywilliger, om by te dra, asook met bydraes van rekenaars, drukkers, Wi-Fi en kantoortoerusting by 082 881 1503. Besoek www.idhelp.co.za vir meer inligting.
Desperate mense staan in lang toue en wag op een van die dae wat die mobiele eenheid van die departement binnelandse sake Fisantekraal besoek het.

You need to be Logged In to leave a comment.