Die geliefde mediese dokter van Durbanville, dr. Jacques Malan, wat Sondagoggend in ‘n motorfietsongeluk op die Helshoogtepad (R310) gesterf het, word wyd geloof vir sy integriteit en deernis met sy pasiënte.
Die gemeenskap van Durbanville, asook medici met wie Malan (55), ‘n algemene praktisyn, vir bykans 30 jaar nóú saamgewerk het, treur nadat sy skielike afsterwe bekend geraak het. Die ongeluk het omstreeks 08:45 naby die afdraai na die Boschendal-wynlandgoed plaasgevind.
Volgens Kurt Maske, ‘n ER24-woordvoerder, is Malan vermoedelik op slag dood toe sy KTM-motorfiets teen ‘n motor gebots het. Hy was op die R310 in die rigting van die R45 onderweg toe die bestuurder van die Toyota-voertuig, wat in die teenoorgestelde rigting gery het, na bewering regs voor hom in ‘n plaaspad van die Boschendal-wynlandgoed afgedraai het.
Malan het in die kant van die voertuig vasgery. Die insittende van die motor is ongedeerd.
TygerBurger het jare lange kollegas van Malan genader, maar talle het nie nog nie kans gesien om met die media te praat nie. ‘n Nabye familielid het aan TygerBurger gesê die gesin sal later meer inligting oor sy lewe en nalentskap verskaf.
Da Vinci-robotchirurgie
Buiten sy besige praktyk in Oxfordstraat in Durbanville, was Malan ook in aanvraag as assistent in teater met Da Vinci-robotchirurgie, veral met prostaatoperasies.
Volgens dr. Gerry Brynard, ‘n plaaslike narkotiseur en ook vriend van Malan, het Malan meer as 27 jaar saam met hom in teater gewerk – eers as assistent met algemene chirurgie en later, sedert 2015, as assistent met Da Vinci-robotchirurgie.
“Hy was bekend vir sy goeie werksetiek en integriteit, en was daarom gesog as assistent.”
Dr. Gerry Brynard
“Hy was bekend vir sy goeie werksetiek en integriteit, en was daarom gesog as assistent. Hy sou ten minste vier uroloë vandeesweek in nege operasies geassisteer het,” het Brynard gesê.
“Hy het ook gereeld klinieke op plase gehou. Hy het almal in teater dieselfde behandel en niemand ooit verkleineer nie. Hy was daarom ook baie gewild onder verpleegpersoneel.”
Malan het talle avontuurlike belangstellings gehad en kon vir ure met sy pasiënte daaroor gesels – onder meer jag, visvang, vlieghengel, visskiet en vryduik. “Hy was ook ‘n baie goeie motorfietsryer en was onder meer ‘n instrukteur vir Honda-motorfietse op die baan. Dis by hom wat ek leer motorfiets ry het,” het hy gesê.
Volgens Brynard was Malan trots oor sy grootwordjare in Kraaifontein, waar hy in 1988 aan die Hoërskool Eben Dönges gematrikuleer het. Hy het daarna medies aan die Stellenbosch Universiteit gaan studeer.
Deernisvolle sorg
Malan se praktyk in Durbanville het Maandagoggend ‘n skrywe aan pasiënte uitgereik om hulle oor sy skielike heengaan in te lig. “Dr. Malan het sy lewe daaraan gewy om deernisvolle, hoëgehalte mediese sorg aan die gemeenskap te lewer en sal baie deur sy pasiënte, kollegas en personeel gemis word,” lui die skrywe. Sy kollega, dr. Jeanne Nel, sal intussen die sorg van sy pasiënte oorneem.
Die Mediclinic Durbanville het in ‘n skrywe op sy Facebook-blad hulde aan Malan gebring.
“Dit is met swaar harte dat ons dr. Jacques Malan groet – ‘n kollega, ‘n vriend en ‘n sagte siel wat die lewens van baie mense aangeraak het. Jacques sal onthou word vir meer as net sy werk – ook sy stille krag agter die skerms en altyd gereed met ‘n helpende hand, ‘n warm glimlag, en ‘n kalm teenwoordigheid wat selfs die besigste dag hanteerbaar laat voel het,” lui die skrywe.
“Hy het ‘n manier gehad om mense gesien en gehoor te laat voel, en het homself oorgedra met nederigheid, goedheid en ‘n diepe toegewydheid aan sy werk en diegene om hom. Sy lojaliteit en deernis is ervaar deur almal wat hom geken het,” lui die skrywe.
Malan laat sy vrou, Charnette, en hul twee kinders, Monique (27) en Jean (25), agter.
Die Groot-Drakenstein-polisie ondersoek ‘n klag van strafbare manslag.


