Huiseienaars in dele van die noordelike voorstede word aangeraai om nóg sekuriteitstelsels soos kringtelevisiekameras te oorweeg wat die dakke en plafonne van hul geboue monitor.
Dié waarskuwing volg ná minstens vyf voorvalle waar verdagtes in Oktober op hierdie manier toegang tot geboue verkry het.
Gevalle is aangemeld in Welgemoed, Loevenstein en Proteavallei.
Die Bellville-polisie se woordvoerder, lt.kol. Fienie Nimb, bevestig die misdaadtendens.
“Dit is ’n tendens wat weer die afgelope maand opgelet is. Die tendens het onlangs ook versprei na dele soos Oakdale, Bo-Oakdale, Avondale, Blomtuin en Bellair,” sê Nimb.
Die takbestuurder van Fidelity ADT in Tygerberg, Kelvin Hitchcox, doen ’n beroep op inwoners om waaksaam te bly.
“Ons doen ook ’n beroep op inwoners om enige misdade – of selfs pogings tot misdaad – by hul naaste polisiekantoor aan te meld sodat hulle akkurate en bygewerkte misdaadtendense kan opstel,” meen Hitchcox.
“In al die gevalle het die verdagtes toegang deur die dak verkry deur dakke te breek, die drade van die alarmstelsels los te maak en die alarmpaneel uit te ruk voordat hulle die huis plunder. Toegang is ook deur boonste of agtervensters verkry.”
Hy raai inwoners aan om te verseker dat ’n alarmstelsel geïnstalleer is wat waardevolle besittings beskerm wanneer ’n mens nie by die huis is nie en om te sorg dat die stelsel gereeld getoets word.
“’n Deel van hierdie stelsel moet infrarooi-strale of ander sensors insluit wat die alarm sal aktiveer ingeval ’n verdagte probeer om deur die dak toegang tot jou gebou te kry.
“Plafonpassiewe-detektors en sekuriteit rondom die perseel is ander instrumente wat ons sou aanbeveel vir oorweging,” sê Hitchcox.