Die jong soliste wat by die Hugo Lambrechts-musieksentrum se Concertofees gaan optree.

Die Hugo Lambrechts-musieksentrum bied vanjaar sy 28ste jaarlikse Concertofees op Saterdag 23 Augustus aan.

Tydens hierdie besonderse geleentheid sal 12 talentvolle jong musici, wat ná landswye oudisies gekies is, as konsertsoliste saam met die Hugo Lambrechts-simfonieorkes onder leiding van Liam Burden optree.

Die program open met Eyo Nzazi, ‘n leerder van die Hoërskool Belhar – een van die musieksentrum se vennootskapskole, wat die “Largo” en “Allegro” uit Vivaldi se kitaarkonsert sal uitvoer.

Strykers

Onder die ander stryksoliste is Siphesande Makele van Muzukids, wat ook ‘n Vivaldi-vioolkonsert speel. Joel Knipe (altviool) sal ‘n werk van Telemann vertolk, en Rebecca Gray (tjello) ‘n konsert van Saint-Saëns. Sara-Anne Coetsee, die simfonieorkes se konsertmeester, sal ‘n werk van Pugnani-Kreisler uitvoer.

Twee pianiste, Dylan Price van Johannesburg en Madison le Roux van Kaapstad, lewer uitvoerings van onderskeidelik Beethoven en Schumann.

Die soliste is (agter van links) Chloé Loggenberg, Madison le Roux, Joel Knipe, Solomon Mannel, Dylan Price, Sara-Anne Coetsee en Matthew Lamprecht. Voor: Eyo Nzazi, Eléna Monvoisin, Rebecca Gray, Hano Krige en Siphesande Makele.

Fluit

Blasers op die program sluit Eléna Monvoisin van Kaapstad op hobo in, met ‘n werk van Hummel, en Matthew Lamprecht van die Frank Pietersen-musieksentrum in die Paarl op fluit, met ‘n stuk van Doppler.

Chloé Loggenberg, oudleerder van die sentrum en tans ‘n BMus-student aan die Universiteit Stellenbosch, sal die gewilde aria “Una voce poco fa” uit Rossini se Il Barbiere di Siviglia sing.

Hano Krige gaan ‘n interessante verwerking van Piazzolla se “Oblivion” op akkordeon uitvoer.

Dirigente

Die Concertofees bied ook jaarliks ‘n platform aan opkomende dirigente. Vanjaar val hierdie eer Solomon Mannel van die Universiteit van Kaapstad te beurt, wat die simfonieorkes in ‘n uitvoering van Sibelius se geliefde “Finlandia” sal lei.

Kontak die musieksentrum by 021 939 9105 (tussen 10:00 en 18:00) vir meer inligting.

Die konsert vind in die Hugo Lambrechts-ouditorium plaas en begin om 19:00.

Kaartjies kos R150 by Quicket.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article