Die Hoërskool Tygerberg se sangleiers by Saterdag se MTBS-atletiekbyeenkoms.


Die Hoërskool Tygerberg het die afgelope naweek aan die jaarlikse interskool-atletiekbyeenkoms, MTBS, deelgeneem waar van sy atlete uitgeblink het. Die skool het algeheel derde geëindig.

Die byeenkoms is Saterdag by die DHL-stadion en Groenpunt-stadion in Kaapstad gehou.

Barend van der Westhuizen, hoof van kultuur, sowel as departementshoof van Afrikaans, Musiek en Drama by die skool, sê Tygerberg het in die derde plek met 987 punte geëindig. Die Tiere stap met 18 goue, 22 silwer en 22 brons medaljes weg.

Van der Westhuizen sê ’n allemintige 52 van die hoërskool se atlete is deur na die Noord Zone-byeenkoms.

Daar is ook rekords gebreek die naweek by MTBS – Sunset Muzinga, o.15-meisies verspring; Tamryn Booysen, o.15-meisies 100m; Wade Samuels, o.17-seuns 100m; en die o.15-meisies aflosspan.

Die Tiere se o.15-meisies word as die beste o.15-meisiesgroep aangewys, sê Van der Weshuizen. Tamryn Booysen (o.15) behaal die beste prestasie in 3 items, beste prestasie vir meisies, en beste prestasie vir die dag.

Wikus Herselman, skoolhoof, wil graag van die geleentheid gebruik maak en sy trots op alle rolspelers in die Tiere-familie uitspreek, sê hy.

“Dit sluit die leerders, ouers, onderwysers en gemeenskap in. Tygerberg is dankbaar vir die gawes wat die Skepper aan ons gegee het deur die 28ste MTBS ’n onvergeetlike byeenkoms te maak.

“Die leerders op die pawiljoene asook die atlete het, in samewerking met hul afrigters, hard gewerk om dit ’n mooi dag te maak. Hy is baie dankbaar vir elkeen se bydra en geweldig trots op almal. Die atlete en die ‘Flashes’-leerders het, ten spyte van ’n snikhete dag, hul beste gegee vir die skool.”

Die skool sê hy wil die organiseerder, Margaret Pansegrouw, bedank sowel as die span van Hoërskool Stellenberg wat as gasheer opgetree het en die borge MTN en Nashua, van die dag.

“Dit was waarlik ’n dag waar sportmangees geseëvier het. Baie dankie aan almal,” sê Van der Westhuizen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article