In die video op ’n gemeenskapsgroep wys Clive Gordon (59) van Kalkfontein sy handgemaakte stoof met oond en ’n mikrogolfoond uit hout – mooi helderpienk geverf.
Die trots in sy handewerk skyn deur soos hy van die details uitwys. Die mini-weergawes is netjies gemaak.
Dan let jy op: sy een hand skort vyf volledige vingers.
Bertram Cloete van Covenant of Christ Ministries, wat die video en foto’s geplaas het, is sy (geestelike) leier – ’n voorbeeldige man na wie hy opkyk, vertel Gordon met die groetslag by Cloete se huis.
Cloete het sy eie nommer by die plasing gesit omdat Gordon se selfoon stukkend is.
Vroeg in die gesprek met TygerBurger noem Gordon daar was ’n mislukte selfmoordpoging. Hy was basies dood, vertel hy, maar die besluit oor lewe is God s’n.
Daar spook nog vrae by hom oor die vergoeding wat hy kry ná die voorval met ’n masjien by ’n werksplek wat sy vingers geëis het. Dit was so 16 of 17 jaar gelede.
Dit het ’n tol geëis – selfs meer sielkundig as fisiek, vertel hy.
Die gesels kinkel rond en bont.
Sy vrou was lieflik, hulle het goed gekliek, maar dinge het verander. Hy wens haar net die beste toe. Danksy haar is hy ’n pa.
Die trane wel op toe hy vertel hoe baie hy sy seun mis – wie hy “deur alles” herinner het, “opvoeding is koning”.
“Hy is in sy laaste jaar op varsity,” sê Gordon.
Geluk was nie altyd aan sy kant nie. Daar was ook verkeerde keuses en ’n tyd wat hy te veel gedrink het.
Eens het hy goed gedoen met sy houtwerk voor dinge uitmekaar geval het. “Ek het daar agter Zevenwacht (Mall) gestaan.”
Hy het verskeie goed gemaak – onder meer juweelkissies wat soos mini-spieëltafels gelyk het, met kassies en laaitjies uitgevoer met fluweel.
“Dit het soos soetkoek verkoop,” vertel hy.
Gereedskap
Met die oond en mikrogolf wat hy nou gemaak het, is daar nog “foute” wat hy wil verander. Hy wys dit uit – die onderkant van die mikrogolf moet dunner en die stoof se knoppe moet kleiner.
“Tog wou mense dit reeds koop,” vertel hy.
Hy het ingestem om die “samples” te verkoop, maar wou eers “templates” maak van die dele voor hy dit laat gaan.
Hy kon knoppe van plastiek gebruik het vir die ‘’skakelaars”, maar wou dit eerder self maak.
Hy haal die stukkie uit waarop die mikrogolf se knoppe gemonteer is om die meganisme aan die agterkant, wat hy self uitgedink en aanmekaar gesit het, te wys.
Met elke draai van een verstelling na die volgende maak dit ’n klikgeluid. Dit kan ook net tot op ’n punt draai, soos ’n regte mikrogolf.
Vir nou het die oond ’n soliede rakkie wat kan uittrek, maar hy wil nog ’n rooster met dun strokies prakseer.
As jy die oond se laai heeltemal uittrek, kan jy een deel ongeverfde hout sien. “Ek doen dit altyd sodat mense kan sien dis van hout gemaak.”
Die twee samples is in geheel met handgereedskap gemaak omdat die tafelsaag en ’n router wat hy eens gehad het, gesteel is.
“Die hand is ’n probleem, want elke stuk moet gesaag word en dan skuur ek dit verder.”
Wens
Sy grootste wens is om weer ’n tafelsaag te kry sodat hy meer akkuraat kan saag en vinniger kan werk.
“As ek ’n masjien het, kan ek een week net die dele sny. Die volgende week sit ek dit aanmekaar. Dan kan ek ten minste 50 in ’n maand maak.”
Eens het hy ’n tafeltjie met kinderstoele gemaak wat van sy bakkie af ’n koper gekry het. ’n Crèche het ’n bakkievrag se goed gekoop en een koper het vier stofies (toe wit geverf) geneem.
Iemand het hom nou reeds gevra of hy ook blou of groen stofies sal maak, pleks van pienk. “Die meeste sjefs is mos mans.”
Verlede Vrydag was daar reeds vier stofies in wording in sy werkspasie in sy kombuis in die wendyhuis waar hy tans woon.
“Ek het nou weer begin met die houtwerk so ’n maand gelede. Hierdie vier is halfpad klaar. Om met die hand te sny en te skuur tot dit reg is – ek dink tog dit is ’n groot prestasie. Dit staan regop, nes die regte ding. Net kleiner.”
Hy skuif die oondrak van die een na die ander oondjie om te wys dit pas orals perfek. Hy het deels soliede hout gebruik, wat hy present gekry het, maar eintlik is 12 mmsupawood ideaal, sê hy.
“Nou die dag was ek moeg. Ek sit met die talent, maar keuses in die verlede het gemaak dat ek sukkel.”
Hy wil van 08:00 tot 17:00 werk, al is hy op sy eie. “Dit is lekker om moeg te gaan slaap van werk.”
Hy geniet dit om die speelgoed te maak, maar hy kan ook goed maak wat vinniger geld sal inbring soos skinkborde, speseryrakkies en sertifikaatrame.
Hy het opgelet van die nuwe ontwikkelings se huise is nie toegerus met medisynekassies nie, wat hy vinnig kan maak met ’n laer insetkoste.
Dan kan hy ook iets beteken vir die gemeenskap waar hy sien hoe kinders, ten spyte van ouers wat hul bes probeer, by bendes ingesuig word.
“Armoede is ’n vloek. Sommige kinders gaan nie skool nie – nie omdat hulle nie wil leer nie, maar omdat hulle moet werk en in die proses word hul toekoms vernietig.”
Hy was eers bietjie versigtig oor die plaas van die video en foto’s oor dié wat afkyk en namaak.
Maar hy het weer gedink. Dié wat ander probeer namaak, gebruik nie hul eie talente nie, sê hy.
“Om anders te wees, is nie ’n slegte ding nie. Om anders te wees, beteken ek is dapper genoeg om myself te wees.”
Die jonges wat hul lewe opmors, reken hy, het nog nie ontdek wat in hulle steek nie. “Daar’s ’n bom in elkeen.”
Hy het nie rede om sy hand weg te steek as dit ander kan motiveer nie.
“In die begin was dit ’n groot verlies. Dit het jare geneem om te verstaan dat die duiwel se boosheid deur God ten goede verander kan word, maar dit hang af van hoe jy kies.
“Ek het die lewe gekies – ek het my mind opgemaak. Daar is niks kragtiger nie as ’n changed mind. Die grootste oorlog gebeur in jou kop. Die vyand wat jou kop beheer, is in beheer.”
Hy sal graag elders wil woon, minder wil sukkel, sy seun meer gereeld wil sien, ’n werkende foon wil hê om minder afhanklik te wees en ’n saagmasjien bekom, maar hy het ’n talent, sê hy.
“Ek is gelukkig met wat ek doen en sou nie die geduld gehad het as ek nie die passion daarvoor het nie.”
Kontak Gordon via Cloete by 061 432 1902.