Die pa van die 30-jarige vrou wat Saterdagaand in ‘n huisbrand gesterf het, het ‘n hartseer beroep op die gemeenskap gedoen om op te hou met vals bespiegeling terwyl die polisie hul ondersoek voortsit.
Marius Christians (57) se dogter, Bianca Atkins, was ‘n skoonmaker by die Hoërskool Bellville-Suid. Sy het in die Wendyhuis langs ‘n kerk in Kasselsvleiweg gesterf toe die huis afgebrand het. DNS-toetse moes gedoen word om haar identiteit te bevestig. Christians sê hy het sy dogter uitgeken aan die broek wat sy aangehad het.
Hy beskryf sy dogter as ‘n besonderse mens wat geliefd was in die gemeenskap. “Sy was ‘n goeie mens; sy was meer ‘n mense-mens,” sê hy.
Vyfjarige agtergelaat

Die tragedie het Atkins se vyfjarige dogtertjie, Jennestine, agtergelaat, wat nou deur Christians versorg word.
Jennestine moes verlede week haar vyfde verjaardag sonder haar ma vier.
Atkins vertel hoe die Bellville-Suid-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) nader gestaan het om Jennestine se dag spesiaal te maak, nadat hulle haar oorspronklike verjaardagplanne moes kanselleer.
Die lede het toe by die huis opgedaag en vir haar ‘n partytjie gegee.
Die gesin ontvang ondersteuning van die GPF, die buurtwag en die polisie, volgens Christians. Hy is dankbaar vir die oorweldigende ondersteuning wat hulle tot dusver gekry het.
Michelle Cecil van die GPF het hul opregte meegevoel aan die familie betuig. “Indien ons gemeenskap enige inligting het wat die ondersoek kan help, kontak die Bellville-Suid-polisiekantoor by 021 950 1306 of 021 950 1308.”
“Mag die familie krag en vertroosting vind gedurende hierdie moeilike tyd,” het Cecil gesê.
Christians vertel dat sy dogter die afgelope tien jaar by hom gewoon het nadat sy op verskillende plekke gebly het.
Hy moedig jongmense aan om eerlik te wees met hul ouers oor waar hulle kuier en met wie hulle bevriend is.

Doodstyding
Christians is baie emosioneel wanneer hy vertel hy het so ná nege-uur die aand die nuus ontvang. Volgens hom het die polisie aan sy deur kom klop en sy dogter se identiteitsdokument kom soek. “Al wat hulle vir my gesê het, is hulle soek haar ID. Ek wou toe weet wat aangaan. Toe sê die polisieman ek moet kom na die huis by die kerk.”
Met sy aankoms op die toneel het Christians verneem dat sy dogter doodgebrand het.
“Toe ek daar kom, het die brandweer reeds daar gestaan en die vuur was geblus.”



