Die hele land soek na Joslin Smith.
Op sosiale media, televisie en in koerante. Die onskuldige groen-oog meisietjie van Saldanha is op almal se lippe.
Sy het ’n paar weke gelede verdwyn toe haar ma haar by dié se kêrel gelos en gaan werk het.
Sedertdien duik haar naam oral op, met gebedsgroepe wat opskiet om vir haar te bid en soekgeselskappe wat by die dag groei.
Maar tussen al die geroesemoes is daar iets wat my vreeslik ontstel en dit is hoe sogenaamde influencers hulself by die storie ingesleep het.
Sommige is so selfbehep dat hulle regstreeks van die toneel af uitgesaai het op TikTok. Ek is seker daar is diegene wat goeie bedoelings het, maar die meerderheid doen dit net vir die clicks.
En dit het my laat wonder of ons hele lewe dan deesdae gaan oor hoeveel mense op sosiale media met ons in aanraking kom? Is die likes dan nou die brandstof wat ons selfwaarde aanvuur?
Ek sien soms mense wat in die regte lewe skaam of teruggetrokke is, wat op sosiale media alles in hul vermoë doen om aandag te trek. Dit is seker elkeen se reg om op sosiale media enigiets te plaas, maar waar trek ’n mens die streep?
Is likes so belangrik dat ’n vermiste meisie se storie met halwe feite en verdraaide inligting geplaas word? Het ydelheid nou gemaak dat ons nie eens meer empatie met ander het nie?
Dit het die laaste paar weke so erg geword dat die polisie in ’n stadium ’n verklaring uitgereik het om te vra dat mense ophou inligting versprei. Nie net is die inligting nie nagegaan voor dit die wêreld ingestuur is nie, maar dit was openlik sensasiesoekery.
Inwoners van die nedersetting, waar Joslin saam met haar ma gewoon het, se eiendom is ook verwoes deur mense wat vals inligting aanlyn gekry het.
Die wêreld is wreed genoeg en ons word daagliks oorlaai met soveel seerkry en pyn dat dit nie nog vererger hoef te word deur mense wat daarop uit is om hul eie beuel te blaas nie.
Toe hierdie rubriek geskryf is, is Joslin nog nie gevind nie. Rowwe stories van mensehandel en pedofielnetwerke doen die ronde. Dit het al so gek geraak dat waarsêers ook nou betrokke is.
Dan het die een pastoor van Eersterivier weer ’n droom gehad en dan het ’n ander apostel weer ’n voorgevoel.
Politici wat niks van polisiewerk af weet nie, het ek ook nou op Saldanha toegesak.
’n Mens wil glo dat hulle daar is omdat hulle omgee, maar ons weet ook dat dit eersdaags verkiesing is en dat elke ou sy gesig op die televisie of in koerante wil sien.
Nou is egter nie die tyd om politieke speletjies te speel nie, terwyl ’n hele gemeenskap in vrees lewe, want wie se kind gaan volgende wees?
Ons almal soek ’n plekkie in die son en op ons eie sosiale media is ons die sterre en verdien al die aandag. Ons weet ook dat sosiale media hier is om te bly en elke jaar kom daar nog by, dus kan jou insta-fame nog vir jare daar wees.
Maar nou, op hierdie oomblik, is dit raadsaam om baie oordeelkundig met sosiale media om te gaan. ’n Kind word vermis en is heel waarskynlik dood. Likes op jou inskrywings gaan haar nie terugbring nie.




