Foto van 'n meisie wat speel op die strand.
Kinders moet altyd onder toesig wees naby water. Foto: Kindel Media

Met die Desember-vakansie op hande waarsku Badisa dat kinders aan verhoogde veiligheidsrisiko’s blootgestel kan wees.

“Die kombinasie van langer dae sonder toesig, veranderde roetines, verhoogde alkoholgebruik en die algemene feestyd-druk lei jaarliks tot ’n styging in voorvalle waarin kinders se veiligheid in gedrang kom,” sê Karoline September, ‘n maatskaplike werker by Badisa.

Die belangrikste beginsel is eenvoudig: ouers moet te alle tye weet waar hul kinders is.

“Wanneer kinders sonder toesig rondbeweeg, veral in die vakansie, word hulle aan gevaar blootgestel. Probeer sover moontlik om kinders by die huis besig te hou sodat hulle nie in die strate hoef rond te dwaal nie. As jy ’n werkende ouer is, moet jy jou kinders in betroubare sorg plaas,” sê September.

Kuier verantwoordelik

Gedurende die feestyd verander baie gesinne se roetines. Ouers is meer sosiaal vanweë verskeie byeenkomste wat ook soms met meer alkoholgebruik gepaard gaan. Hierdie faktore kan kinders se veiligheid direk beïnvloed.

“Ons sien elke jaar dat kinders makliker verwaarloos of selfs mishandel word wanneer volwassenes hul aandag na sosiale aktiwiteite verskuif. Ouers moet verantwoordelik omgaan met alkohol en ten alle tye in die beste belang van hul kinders optree,” sê September.

Foto van drankies
Alkoholmisbruik vererger situasies en verhoog die kans op verwaarlosing, mishandeling en molestering.

Volgens haar is daar ’n paar herhalende risiko’s wat elke vakansieseisoen na vore kom. Kinders word soms alleen by die huis gelos of selfs uitgesluit, veral wanneer ouers by ander geleenthede is. Alkoholmisbruik vererger hierdie situasies en verhoog die kans op verwaarlosing, mishandeling en molestering.

Wees veilig

“Talle kinders swem in damme en ander waterplekke sonder toesig. Dit is ’n ernstige risiko. Ouers moet seker maak kinders ontvang toesig en dat kinders nie alleen rondloop of alleen gaan swem nie,” waarsku September.

Sy moedig ouers ook aan om openlik met kinders te praat oor gevare in die gemeenskap en om duidelike reëls en grense vir die vakansie te stel.

Wanneer gesinne na besige plekke soos strande, winkelsentrums of feeste gaan, is voorbereiding noodsaaklik. September beveel aan dat ouers vooraf met hul kinders praat en verduidelik dat hulle naby hul ouers of familie moet bly.

Jonger kinders moet hul volle name ken, asook hul ouers se name. “Dit help baie as ’n kind verdwaal.

“Ouers kan ook ’n eenvoudige armband maak met kontakbesonderhede daarop wat die kind kan dra. As die kind wegraak, kan iemand vinnig die ouers kontak. Kinders moet ook die noodnommer 10111 ken. Ouers moet vir hul kinders wys na wie hulle kan gaan sou hulle verdwaal, soos menseredders op strande, mobiele polisie-eenhede, of die inligtingstoonbank in ’n winkelsentrum.”

Waar om hulp te kry

“As ’n ouer bekommerd is dat sy kind onveilig is of wegraak, moet hy dadelik hulp soek. Kontak die plaaslike polisie, jou naaste Badisa-kantoor, of maatskaplike dienste in die gebied,” sê September.

Badisa moedig ouers en versorgers aan om noodnommers byderhand te hou en dit ook met ouer kinders te deel. Vinnige optrede kan ’n reuseverskil maak wanneer ’n kind wegraak, beseer word of in gevaar is.

Nuttige noodnommers

● Polisie-noodgeval: 10111

● Childline Suid-Afrika (gratis hulplyn vir berading en mishandeling): 116

● Algemene selfoon-noodnommer: 112

● Geslagsgebaseerde geweld-oproepsentrum (mishandeling): 0800 428 428

● Hulplyn vir mensehandel: 0800 222 777

● Ambulans / mediese noodgeval: 10177

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article