Op Sondag 14 September gaan ek en my vriendin met ons drie vredeliewende honde na die Bolanddam vir honde in Durbanville om met ons honde te stap.
Soos al die honde daar, is ons honde loslopend want eienaars wat gereeld daarheen kom, weet dit is net honde wat geleerd is en nie ander honde sal aanval nie. Ons gaan gereeld daarheen en daar was nog nooit ‘n voorval van bakleiery onder die honde nie.
Ons was op die punt om die park te verlaat toe twee jongmense met ‘n Staffordshire-terriër aan ‘n leiband in ons rigting gestap kom. Ons was in gesprek met ‘n dame wat met haar en haar dogter se vier honde daar was. Sy sê toe aan ons dat dit haar seun en sy meisie is. Die jongman vra toe vir sy ma of hy sy hond se leiband kan losmaak waarop die ma antwoord: “Jy ken jou hond”.
Meteens was die Staffie bo-op my Jack Russel. Die jongman het met moeite sy hond afgetrek van my hondjie afgetrek.
Ek het nie besef dat sy ernstig gebyt is nie. Sy het effens mank geloop maar toe ons by die huis kom, stroom die bloed van haar agterbeen af.
By nadere ondersoek sien ek dat daar ‘n baie diep wond onder op haar buik is. Ek het die wond ontsmet en iets vir pyn vir haar ingegee.
Aangesien dit Sondag was en ek ‘n pensioenaris is, het ek besef dat ek met ‘n groot veeartsrekening gaan opeindig.
Ek het Maandagoggend vroeg ‘n afspraak by veearts gemaak. Die uiteinde van die saak was 10 steke en ‘n rekening van R3 500.
Ek het ongelukkig nie die kontaknommer van die eienaar geneem nie, want ek het nie besef hoe ernstig dit was nie. My vriendin het die ma van die eienaar raakgeloop en sy het my telefoonnommer geneem.
Ek sou dink dat die skuldige party die ordentlikheid sou hê om my te skakel en om verskoning te vra en aan te bied om te help met die onkoste, maar hulle swyg soos die graf.
My doel met hierdie skrywe is nie om iemand te beswadder nie, maar om eienaars te vra om asseblief nie aggresiewe honde na hondeparke te neem en sonder leibande met hulle daar te stap nie.
Sandra Basson, E-pos


