Vir Marius Erasmus, hoof van die Alta du Toit-skool in Kuilsrivier, lê werkskepping vir gestremdes baie na aan die hart.
Erasmus, wat reeds 23 jaar ervaring as skoolhoof by skole vir leerders met spesiale behoeftes het, is die medestigter van Job-abled, ’n gebruikersvriendelike platform wat gestremdes help om werk te vind.
Job-abled is onlangs by die SAB-stigting se jaarlikse toekennings in die kategorie vir bemagtiging van gestremdes (disability empowerment) as naaswenner aangewys.
Die SAB-stigting se gestremdheidsbemagtigings-program is gemik op innoveerders, maatskaplike entrepreneurs, organisasies en ondernemings, wat innoverende oplossings vir gestremdes bied.
Die toekennings bied ondersteuning deur finansiering – R1,3 miljoen vir die wenners en R950 000 vir naaswenners, asook doelgerigte mentorskap en sakeontwikkeling.
Verbind werksoekers
Erasmus vertel Job-abled maak gebruik van Jobjack as platform. Heine Bellingan en Christiaan van den Berg is die medestigters en direkteure van Jobjack, ’n toepassing (app) wat in 2018 bekendgestel is as ’n platform om werksoekers en werkgewers maklik met mekaar te verbind.
Erasmus sê Job-abled is soos ’n onder-afdeling van Jobjack.
“In ’n stadium op die platform (Jobjack) sal dit vra of jy ’n gestremdheid het. As jy sê ‘ja’, dan doen jy die gestremde deel (Job-abled).”
Job-abled is in 2019 begin. Erasmus sê dit het gekom nadat hy ’n insetsel oor Jobjack op TV-nuus gesien het. “Ek het gesien wat hulle doen en hulle toe gaan besoek. Ek het vir hulle (Heine en Christiaan) gesê hulle moet gestremdes ook insluit, en hulle was gewillig om dit te doen.”
Erasmus se belangstelling in die platform spruit uit sy jare lange ervaring by spesiale skole.
“Ons kinders het baie goeie vaardighede. Hulle leer baie goeie praktiese vaardighede aan, soos houtwerk en leerwerk. Die vraag wat die ouers altyd vra, is: ‘wat doen my kind nou ná skool?’
“Ek het altyd vir hulle gesê, maar hulle (die leerders) het goeie vaardighede; dit is maklik om werk te kry.
“Maar die navorsing het gewys dat die meeste leerders by spesiale skole nie kan bekostig om aansoek (vir werk) te doen nie. As jy jou papier-CV vat en jy gaan na vyf plekke toe, kos die vervoer en alles jou gemiddeld R800,” sê hy.
Die outomatisering van die proses deur ’n toepassing sny die onkostes en maak dit meer toeganklik, verduidelik Erasmus.
“Die maatskappye laai hul poste op, dan skep jy (die werksoeker) ’n profiel aan die ander kant. Deur algoritmes gee ons vir die maatskappy ’n kortlys van vyf kandidate.”
Daar is dus geen rompslomp met gedrukte CV’s of onnodige vervoerkostes nie, maar dit is net die een kant van die Job-abled-prentjie, sê Erasmus.
Sakeplan
“Die ander kant is die korporasies wat ons by skole stig. Ons het groentetuine, leerwerk, marimba-orkeste en doen herwinning. Dit is projekte wat ons skep vir ’n skool, dan plant ons dit by ander skole ook. Dit skep ook werk; dit gaan alles oor werkskepping.”
Erasmus sê nie ’n sent van die R950 000 sal deur enige van die individue betrokke by Job-abled se bankrekenings gaan nie.
“Die SAB stel ’n sake-afrigter aan. Hulle kyk na jou sakeplan en pas dit aan. Dan betaal hul die fondse uit.
“Alles gaan aan die projek en wat nodig is om dit vorentoe te vat – op groter skaal. Hulle gaan nou vir vyf jaar ’n pad saam met ons loop,” verduidelik hy.
Die SAB-stigting maak sedert die 2010-toekennings jaarliks toekennings aan entrepreneurs in die veld van maatskaplike innovering en sedert 2016 vir gestremdheidsbemagtiging.
Volgens die stigting fokus die toekennings op innoveerders met die doel om volhoubare besighede te verseker wat werk skep om sodoende maatskaplike verbetering in gemeenskappe te weeg te bring.
Vanjaar is 18 finaliste ná vier rondes van beoordeling deur kenners vanuit die regering, die burgerlike samelewing en die private sektor uit sowat 1 000 aansoeke aangewys.
Die wenners is op Donderdag 12 Oktober by ’n geleentheid in Johannesburg aangekondig.
Luvuyo Sume en Riaan Knight, stigters van Prosthetic Engineering Technologies in Gqeberha) wat ’n beskermde silikoonkous vir prostese ontwerp het, het die kategorie vir gestremdheidsbemagtiging gewen.
Bridget Evans, uitvoerende hoof van die SAB-stigting, sê hul fokus is om sakeondernemings te ondersteun wat produkte, dienste, sakemodelle en prosesse ontwikkel het wat maatskaplike uitdagings aanpak, maar terselfdertyd ook ’n volhoubare sakemodel het.
Die Alta du Toit-skool het in ’n boodskap op sy Facebook-blad gesê die skool is baie trots op hul hoof se merkwaardige prestasie, wat hulle weet die gevolg van baie harde werk en vasberadenheid is.