’n Hoërskool-rugbyster en sy ma is in die hospitaal nadat hul huis afgebrand het.
Die Vermaak-gesin van Boston se huis het einde verlede week in die vroeë oggendure aan die brand geslaan. Hul hond is in die brand dood.
Wynand Vermaak, ’n graad 8-leerder aan Hoërskool D.F. Malan en belowende rugbyspeler, is in ’n geïnduseerde koma in Tygerberg-hospitaal se brandeenheid.
Sy ma, Lelani, is in die Mediclinic Louis Leipoldt opgeneem. Sy is fondsinsameling- en bemarkingsbestuurder by Huis Zonnekus se senior sentrum in Milnerton en het voorheen by Alta du Toit-nasorgsentrum gewerk. Sy sal vandag (Maandag 10 Julie) ’n operasie ondergaan om van die skade aan haar lyf te herstel.
Die ander twee lede van die gesin, Morne, en sy dogter, McKenzie (5), is fisiek ongeskonde.
“Die trauma is meer as wat hulle kan hanteer,” lui ’n inskrywing op die Boston Spirit se Facebookblad. Dié gemeenskapsorganisasie het ook intussen begin om donasies in te samel.
Mense wat die gesin wil help, kan ‘n e-pos stuur na info@bostonspirit.org.za.