Toe Margaret Pelton, die hoof van die Hoërskool Malibu, die skool se matriekuitslae die aand voor die aankondiging sien, het sy in trane uitgebars.
Die skool het ’n slaagsyfer van 92,8% in die 2022-eksamen behaal.
Pelton is van 2021 af skoolhoof by Malibu en sy was angstig oor die uitslae.
“Die matrikulante het twee jaar laas ’n eindeksamen geskryf en ek het nie verwag dat hulle so goed sal vaar nie. Ons het verlede jaar ‘n slaagsyfer van 82% gehad en het vanjaar gemik vir 85%; dus is vanjaar se uitslae bo enige verwagting.
“Toe my man my vra hoekom ek huil, toe sê ek vir hom hierdie is ’n wonderlike oomblik vir die skool. Dit beteken so baie vir die leerders en hul familie,” sê Pelton.
Pelton sê almal by die skool het in dieselfde rigting getrek, en dit is hoekom hulle nou die vrugte pluk. “Leerders, onderwysers, nie-doserende personeel het almal bygedra tot hierdie sukses. Baiekeer word net die skoolhoof gelukgewens, maar so baie mense speel ’n rol in die sukses van die skool en ek wil almal bedank,” sê sy.
Volgens Pelton het sy teruggekyk op die skool se uitslae in die verlede en was sy verbaas.
“Die skool het laas in 2017 90% behaal. Ek gaan beslis hierdie uitslae as motivering gebruik op die eerste ouervergadering en ook vir die matrikulante van 2023. Die uitdaging vir vanjaar se matriekuitslae kan dien as ’n voorbeeld en ’n bewys dat enigiets moontlik is as daar net hard gewerk word,” sê sy.
David Maynier, Wes-Kaapse onderwysminister, sê in ’n verklaring hy is verheug oor die provinsie se slaagsyfer van 81,4%.
“Ons is verheug dat die Wes-Kaapse klas van 2022 alle struikelblokke oorkom het en die provinsiale slaagsyfer tot 81,4% verbeter het.
“Die 49 102 wat geslaag het, is die meeste wat ons ooit gehad het,” sê Maynier.


