Hoërskool DF Malan vier 70ste bestaansjaar

Daar is net enkele mense wat nog kan onthou hoe die eerste perseel van die Hoërskool DF Malan gelyk het.


Daar is net enkele mense wat nog kan onthou hoe die eerste perseel van die Hoërskool DF Malan gelyk het.

Tien van dié mense, wat in die jare 1958, 1959 of 1960 gematrikuleer het (en dus sowat 83 jaar oud is), was Vrydag onder die eregaste wat Vrydag die skool se 70-jaar-verjaarsdagvieringe by die skool en die huidige Bellville-polisiekantoor bygewoon het.

Honderde geel, wit en blou omgewingsvriendelike ballonne het die oggend vroeg al in die strate van Boston gesweef toe leerders van die Hoërskool DF Malan na die Bellville-polisiekantoor opgeruk het om die mylpaal te vier.

Die skool het in 1954 begin by die gebou waar die polisie vandag is.

Daar was in daardie eerste jaar net 350 leerlinge van standerd 3 (gr. 5) tot standerd 6 (gr. 8). Leerders het gou vermeerder en hulle het in 1957 na die nuwe perseel geskuif. Die eerste matriekgroep het in 1958 die skool verlaat.

Leerders loop terug skool toe nadat hulle tot by die Bellville-polisiekantoor, die eerste perseel van die Hoërskool DF Malan, geloop het.FOTO: Nielen de Klerk

Pieter Combrink, een van die vier leerders uit die eerste matriekklas van 1958 wat by die byeenkoms was, oorhandig ’n fakkel aan 2024 se hoofleiers, Dirk Hagen en Emma Geringer. By Combrink is Sias Conradie, huidige skoolhoof.FOTO: Eileen Vermeulen

Oud-leerders, hoofde, enkele beheerliggaamvoorsitters en oud-onderwysers het die oggend onder die bome by die polisiekantoor bygewoon, nes leerders 70 jaar terug gemaak het.

Een van die toesprake was die oorspronklike openingstoespraak van dr. Danie Brink, die skool se eerste hoof, wat deur Gert Visser, oud-adjunkhoof, voorgelees is.

In dié tyd het die leerders tot by die polisiekantoor gestap.

Met hul aankoms in Voortrekkerweg het die huidige matriekgroep jolig vir motors en taxi’s gewuif wat vir hulle toet, terwyl die eregaste oorkant die pad by die polisiekantoor, hul eerste perseel, na toesprake luister. Die ligging, met die taxi’s en motors, was ’n sterk herinnering aan hoe baie die wêreld oor die jare verander het.

As deel van die seremonie het Pieter Combrink, een van die vier leerders uit die eerste matriekklas van 1958 wat by die byeenkoms was, saam met Sias Conradie, huidige skoolhoof, oor Voortrekkerweg geloop en ’n fakkel aan 2024 se hoofleiers, Dirk Hagen en Emma Geringer, oorhandig.

’n Groep leerders vier die dag.FOTO: Nielen de Klerk

Gert Visser, voormalige adjunkhoof van die skool, lees ’n toespraak van dr. Danie Brink.FOTO: Nielen de Klerk

Eregaste kon ná die verrigtinge, terwyl die leerders teruggestap het, nog kyk hoe party van die oorspronklike kamers gelyk het.

Vir baie was dit ’n groot oomblik, met een vrou wat vertel het hoe sy nog onthou hoe sy daar gedans het.

Drie oud-skoolhoofde was ook by die geleentheid – Barry Volschenk (1989 tot 1996), Rian Truter (1996 tot 2007) en Joh Dorfling (2007 tot 2016).

Dorfling het by navraag gesê die oggend se geleentheid was ’n hoogtepunt. “Amper soos elke dag by DF,” het sy skertsend bygevoeg. “Dit is ’n lekker gevoel om deel van die skool se geskiedenis te wees.”

Truter het gesê dit was vir hom amper oorweldigend. “Dit maak ’n ou baie nederig om te kan sê ek kon vir ’n kort tydjie deel wees.” Volschenk het gesê die hele dag het hom baie trots laat voel.

Die aand het die skool ook ’n glansgeleentheid by Eensgezind gehou.

Oud-skoolhoofde en oud-adjunkhoofde, asook hul gades, die skoolhoof, adjunkhoofde, onderwysers, oud-beheerliggaamlede, asook huidige beheerliggaamlede, alumni, oud-ouers en huidige ouers van die skool het die geleentheid bygewoon.

You need to be Logged In to leave a comment.