’n Graad 9-leerder aan die Hoërskool DF Malan wat onderweg was om sy Afrikaans-eksamenvraestel te gaan skryf toe die ongeluk omstreeks Donderdagoggend om 07:00 gebeur het.


’n Graad 9-leerder aan die Hoërskool DF Malan is vandag (Donderdag 14 November) omstreeks 07:00 deur ’n voertuig getref toe hy en ’n vriend Frans Conradie-rylaan op pad skool toe, oorgesteek het. 

Die seun het ligte beserings opgedoen. 

Die skoolhoof, Sias Conradie, het aan TygerBurger bevestig die seun was onderweg om ’n Afrikaans-eksamenvraestel te stryf.

“Ouers (ondere andere een wat gelukkig ook ‘n mediese beroep het) en skoolpersoneel was baie vinnig op die toneel om hulp te verleen en die situasie te assesseer. Nooddienste is onmiddellik ontbied.”

Probleem

’n Bron wat die TygerBurger oor die insident ingelig het, vertel ook dat die debat oor voetganger-veiligheid op Frans Conradie-rylaan al jare aankom.

“Die groot uitdaging hier is dat daar geen voetoorgang of verkeerslig voor die skool is nie. Hierdie voorval was ’n ongeluk wat net gewag het om te gebeur,” sê die bron.

Ongeluk DF Malan

Ouers en skoolpersoneel was baie vining op die toneel om hulp te verleen en die situasie te assesseer.

Conradie sê dat daar jare gelede’n verhewe voetoorgang voor die skool was, “maar daar was baie meer ongelukke en ná ’n ondersoek deur die Stad, is dit verwyder”. 

“Daar is al verskeie ondersoeke begin om ander moontlikhede vir die stuk pad te oorweeg, maar na bewering laat verkeersregulasies nie ’n verkeerslig toe nie en die koste-implikasies van ’n brug was blykbaar te groot.”

Conradie sê die skool se leerders word periodiek versoek om die pad eerder by die robot op die hoek van Bostonstraat en Frans Conradie-rylaan oor te steek.

“Ons is baie dankbaar dat die betrokke leerder nie ernstig beseer is nie.” 

Assessering

Hy sê dat die skool reeds vroeg Donderdag weer met die wyksraadslid oor die moontlikheid van ’n werkbare oplossing gepraat het.

“Ons leerders se veiligheid is ons hoogste prioriteit en ons sal dit hoog op prys stel indien die owerhede kan help om ’n veilige oorgang te vestig.”

Wyk 2-raadslid Roger Canon se gesprekke is onlangs weer met die Stad Kaapstad gevoer om verkeerskalmering in strate om die skool te aan te bring.

“Frans Conradie-rylaan is een van daardie groot roetes wat ’n tameletjie is. Daar is verkeersligte in die pad, maar ander verkeersregulasies moet in ag geneem word. Die Stad moet eers verdere asseserings doen om die toepaslike verkeerskalmering toe te pas,” sê Canon. 

Navrae oor wat die toekoms vir Frans Conradie-rylaan naby die Hoërskool DF Malan inhou, is Donderdag aan die Stad Kaapstad gerig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article